Die Val van Satan

Die Val van Satan

Prof. Johan Malan.

Die koninkryk van die duisternis is ‘n werklikheid waarvan elke mens kennis moet neem. Satan en sy demone, dit is die gevalle engele wat weens hulle rebellie uit die hemel gewerp is, is in ‘n hewige stryd teen God en sy koninkryk gewikkel. Hulle streef na verering en mag. Satan is by uitstek ‘n nabootser wat soos God wil wees omdat hy in die plek van God aanbid wil word en oor die heelal wil regeer. In ‘n poging om die Drie-enige God na te boots, staan Satan se koninkryk onder die hoofleierskap van ‘n driemanskap - die duiwel, die Antichris en die valse profeet. Die duiwel stel homself in die plek van God. Sy toekomstige wêreldleier, die Antichris, word in die plek van Christus gestel, terwyl die valse profeet die bediening van die Heilige Gees probeer naboots. Hy sal groot tekens en wonders doen.

Lucifer is as ‘n goeie, wyse en wonderskone engel deur God geskape, maar hy het as gevolg van hoogmoed en magsbeheptheid verdorwe geraak. Dit het daartoe gelei dat hy homself met God probeer gelykstel het en het sodoende teen sy gesag in opstand gekom. In Esegiël 28 word die aardse koning van Tirus beskryf, asook die duiwel wat hom aangehits het en dus die werklike mag agter hom was. Lucifer was die ware koning van Tirus. Altwee van hulle het as gevolg van hoogmoed tot ‘n val gekom. Die Here sê van Lucifer:

"Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking... en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei. Jy was ‘n gérub met uitgespreide vlerke wat beskut, en Ek het jou gestel op ‘n heilige berg; ‘n god was jy; jy het gewandel tussen vurige gesteentes. Jy was volkome in jou weë van die dag af dat jy geskape is, totdat daar ongeregtigheid in jou gevind is... jou binneste [is] met geweld gevul, en jy het gesondig; daarom het Ek jou as onheilige van die godeberg afgedrywe, en Ek het jou tussen die vurige gesteentes uit vernietig, o gérub wat beskut! Hoogmoedig het jou hart geword oor jou skoonheid; jy het jou wysheid verderwe weens jou glans. Ek het jou op die grond gewerp" (Eseg. 28:12-17).

Dit is om die volgende vier redes baie duidelik dat daar in hierdie verse van Lucifer gepraat word, en nie van die aardse koning van Tirus nie:

  • Hy het in die tuin van Eden verskyn;
  • hy was ‘n engel wat beskut;
  • hy het vrye toegang tot God se heilige berg gehad;
  • hy was sondeloos vanaf die tyd dat hy geskape is totdat hy tot ‘n val gekom het.

Die engele wat deur Lucifer mislei is deur in sy rebellie te deel en sodoende ook te sondig, is saam met hom uit die hemel gegooi. Hulle ongeregtigheid het hulle ook absoluut verwronge en haatlik gemaak. Ná sy val is Lucifer as Satan beskryf, wat God se teëstander is.

In Jesaja 14 gebruik die Here die val van die koning van Babel om Lucifer, die môrester, se val uit die hemel te beskryf. Babilon is ‘n bekende simbool van Satan se koninkryk op aarde, daarom het Satan tydens die aanvanklike vestiging van Babilon in Nimrod gevaar, hom beïnvloed om ‘n geweldenaar te word en in sy grootheidswaan ‘n stad en ‘n toring te bou waarvan die spits tot aan die hemel reik. Só kon die gevalle mens oor die hele aarde heers, na die hemel opklim en homself met God gelykstel (Gen. 11:4-8). In die latere geskiedenis van Babilon was die stad steeds die simbool van ‘n magtige koninkryk wat vyandig teenoor God se koninkryk is, en volgens Openbaring 18 sal dit in die eindtyd weer herbou word en sy goddelose heerskappy oor die nasies van die wêreld voer. Die demoniese konnotasie van hierdie bose stad blyk duidelik uit profesieë oor sy finale val: "Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste" (Op. 18:2). Lucifer was deur al die eeue heen die werklike koning van Babel, ook van die verborge, geestelike Babilon van valse gelowe. Die menslike tiranne wat in Babilon regeer het, was almal verpersoonlikings van hom en het sy rebellie, geweld, godsdienstige selfverheffing en afgodediens tot ongekende uiterstes gevoer. Dit is paslik dat Lucifer se val uit die hemel met die val van Babel se koning vergelyk word, omdat sy koninkryk gedoem is om onder te gaan. Uit die konteks is dit baie duidelik dat Lucifer hier ter sprake is, omdat die aardse koning van Babilon nooit die môrester (lucifer) was wat op die berg van samekoms in die hemel gesit en hom­self met God gelykgestel het nie:

"Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, en my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil opklim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil! Die wat jou sien, beskou jou, hulle let op jou en sê: Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?" (Jes. 14:12-17).

Dit moes ‘n dramatiese en skielike gebeurtenis gewees het toe Lucifer en sy engele deur God uitgewerp is. Johannes sê hy het ‘n derde van die sterre van die hemel met hom saamgesleep (Op. 12:4), wat daarop dui dat hy aansienlike mag het. Die gevolge van Lucifer se uitwerping uit die hemel was geweldig. Hy het wraak gesweer op God en sy koninkryk deur God se skeppingswerk oral aan te val en te verwoes. Hierdie oorlogsverklaring het finaal van hom Satan, God se vyand en teëstander, gemaak. Hy wil veral die mens wat na die beeld van God geskape is, in sy mag kry en uiteindelik verwoes, daarom beskryf die Here hom as ‘n mensemoordenaar van die begin af (Joh. 8:44).

Die uitwerping van Satan uit die hemel was net die begin van sy vernedering. Hy het daarna die kans gekry om sy ware karakter te ontbloot en sodoende die maat van sy ongeregtigheid vol te maak. Dit het hy in sy verleidings- en verwoestingswerk onder mense gedoen. Die natuurlike skepping ly ook as gevolg van die sondeval en die vernielsugtige dade van die duiwel en sy menslike trawante. Tydens die sewe jaar lange bewind van die Antichris sal Satan sy grootste aanslag op die mensdom doen: "Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" (Op. 12:12). Baie mense sal as gevolg van oorloë, pessiektes, hongersnode en ander onleefbare toestande sterf, en die aarde sal in ‘n verwoeste plek omskep word.

Satan se val, soos in Eségiël en Jesaja beskryf, vind in verskillende stadiums plaas. Dit sal ‘n verdere dimensie verkry wanneer hy aan die einde van die groot verdrukking, tydens die wederkoms van Christus, vir ‘n duisend jaar lank in ‘n put gebind word (Op. 20:1-3). Dan sal van hom gesê kan word: "Is dit die man wat die aarde laat sidder het, koninkryke laat beef het? Die wêreld soos ‘n woestyn gemaak en sy stede verwoes het?" Aan die einde van die duisend jaar, nadat hy vir ‘n kort tydjie losgelaat is, sal Satan en al sy aanhangers vir ewig in die poel van vuur gegooi word.

Satan word verder geopenbaar

Dit is belangrik om te let hoedat Satan progressief in die Bybel geopenbaar word, want dit het na ‘n hele paar beskrywende name van hom aanleiding gegee. Hierdie name is ‘n verdere aanduiding van sy motiewe, werkswyse en bose karakter. Satan en sy demone werk uit mistiese sfere, uit die onderwêreld (Luk. 8:31) of uit die lug bokant die aarde (Ef. 6:12), en verkies om ter wille van groter sosiale aanvaarbaarheid hulle ware identiteit te verberg. Aanvanklik het hulle die identiteit van verskeie afgode, en selfs voorouergeeste, aangeneem om te verseker dat mense hulle onwetend sou aanbid en dien deur aan hulle te offer. Hierdie gebruik het deur die eeue heen groot inslag gevind, en in Nuwe Testamentiese tye is Christene ook ernstig gewaarsku om niks hiermee te doen te hê nie. Paulus het aan die Korinthiërs hieroor geskryf: "Wat sê ek dan? Dat ‘n afgod iets is, of dat ‘n afgodsoffer iets is? Nee, maar dat die heidene wat dit offer, aan duiwels offer en nie aan God nie. En ek wil nie hê dat julle met die duiwels gemeenskap moet hou nie... Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van die duiwels nie" (1 Kor. 10:19-21). Of die heidene dit wil weet of nie, hulle dien die duiwel.

In die Ou Testament het die heidene ‘n groot aantal Baäls (vreemde gode), Astartes (godinne) en ook ander afgode aanbid (Rigt. 2:11-13; 1 Sam. 12:10), en Israel is dikwels verlei om hieraan mee te doen. Die afgodediens is ook saam met okkultiese aktiwiteite soos spiritisme, waarsêery, goëlery en towery beoefen, wat alles werke van die duisternis is waarmee die duiwel mense mislei. Israel is ernstig teen hierdie dinge gewaarsku: "Daar mag niemand by jou gevind word wat... met waarsêery, goëlery of met verklaring van voortekens of towery omgaan nie, of wat met besweringe omgaan, of wat ‘n gees van ‘n afgestorwene vra of ‘n gees wat waarsê, of wat die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir die Here ‘n gruwel... Want hierdie nasies wat jy uit hulle besitting verdrywe, luister na goëlaars en waarsêers; maar wat jou aangaan, die Here jou God het jou nie so iets toegelaat nie" (Deut. 18:10-14). Sterrewiggelary word ook saam met ander okkultiese aktiwiteite as werke van die duisternis verbied (Jes. 47:12-14).

Daar is in die Ou Testament ook begrippe wat meer regstreeks met die duiwel en sy demone in verband staan, en selfs voorbeelde van openlike satanisme. Die Hebreeuse woord "sa-ir" beteken "duiwel" en word in Levitikus 17:7 en 2 Kronieke 11:15 as "veldduiwel" vertaal. Die King James-Bybel vertaal dit as "devil". "Sa-ir" kan egter ook as ‘n "harige bok" vertaal word. In ‘n bekende Hebreeuse woordeboek word "sa-ir" as "hairy demon in shape of he-goat" vertaal (A concise Hebrew and Aramaic lexicon of the Old Testament, deur W.L. Holladay). In die lig hiervan is dit duidelik dat die duiwel ook as ‘n harige bokram voorgestel kan word. In satanistekringe word die duiwel as ‘n swart bok of ‘n menslike wese met die kop van ‘n bok uitgebeeld. In sommige voorstellings is hy ‘n afskuwelike kreatuur wat menslike én dierlike trekke het, maar altyd met bokhorings op sy kop.

Die Ou Testament gebruik ook die woord "sjed" vir "duiwel" (vgl. Deut. 32:17). In Psalm 106:37-38 word ‘n antieke vorm van satanisme beskryf waarin mense hulle kinders aan die duiwels geoffer het: "Bowendien het hulle hul seuns en hul dogters aan die duiwels geoffer en onskuldige bloed vergiet... wat hulle aan die afgode van Kanaän geoffer het." In hierdie geval word afgode en duiwels met mekaar gelykgestel.

As ‘n baie duidelike en regstreekse openbaring van die Bose kom sy naam, "Satan," net op enkele plekke in die Ou Testament voor. Dit beteken "Teëstander" of "Vyand" en dui daarop dat hy die groot teëstander, of vyand, van God en die gelowiges is. Twee ander beskrywende name van hom wat ook in die Ou Testament voorkom, is "aanhitser" en "aanklaer." In 1 Kronieke 21:1 lees ons: "Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel." In Sagaria 3:1 word gesê dat Satan aan die regterhand van die hoëpriester, Josua, gestaan het om hom aan te kla. Moontlik verwys Leviátan, die seeslang, of monster in die groot water, ook na Satan (Jes. 27:1)

In die Nuwe Testament word beide die name "Satan" (Teëstander) en "duiwel" gebruik. "Duiwel" is van die Griekse woord "diabolos" afgelei, wat "lasteraar" beteken. Ander name wat vir die duiwel in die Nuwe Testament gebruik word, is die Bose (Matt. 13:19), Mammon, die geldgod (Luk. 16:13), die engel van die lig (2 Kor. 11:14), die verleier (Op. 12:9), die vader van die leuens (Joh. 8:44), Apóllion, die vernietiger (Op. 9:11), Beëlsebul, die god van die vlieë (Matt. 12:24), Bélial, die nuttelose of hopelose (2 Kor. 6:15), die aanklaer (Op. 12:10), die mensemoordenaar (Joh. 8:44), die owerste van die mag van die lug (Ef. 2:2), die owerste van hierdie wêreld (Joh. 12:31), die versoeker (1 Thess. 3:5), die slang (Op. 12:9), die draak (Op. 12:9), die brullende leeu (1 Pet. 5:8) en die god van hierdie wêreld (2 Kor. 4:4).

Satan is die hoof van die koninkryk van die duisternis met baie bose geeste, of duiwels, onder hom. Sedert die sondeval beheer en manipuleer hy ook die ongeredde mense wat geestelik in sy mag is. Uit hierdie bose mag verlos die Here ons: "Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde" (Kol. 1:13).

Die duiwel probeer alles moontlik om die beheer oor God se skepping oor te neem en dit te verwoes. Hy wil ook die beeld van God in mense vernietig deur hulle geestelik te verblind en van hulle slawe van die sonde te maak. Sy einddoel is om in die plek van God deur alle mense vereer, aanbid en gedien te word. Ook wil hy die Antichris in die plek van Christus in ‘n posisie van heerskappy op aarde plaas. In die plek van die Heilige Gees se werk probeer hy om mense deur verleidende geeste te mislei en te laat dwaal. Is jy geestelik toegerus om hierdie stryd te kan stry? Die Bybel sê: "Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug" (Ef. 6:11-12).

Die geestelike magsposisie wat Satan op aarde verkry het, is die gevolg van die sondeval. Alle mense word met ‘n sonde-geneigde natuur gebore en rebelleer saam met die duiwels teen God. Hulle is geestelik dood en moreel verdorwe (Rom. 3:10-18). Selfs ná die koms van Jesus Christus verkies die meeste van hulle die duisternis bó die lig omdat hulle werke boos is (Joh. 3:19). Dit is die rede waarom die duiwel die owerste en ook die god van hierdie gevalle, bose wêreld genoem word (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4). Johannes sê dat die hele wêreld in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Sy invloed is dus baie groot. Satan gebruik ‘n verskeidenheid metodes om die mensdom geestelik te mislei, waaronder die volgende die algemeenste is:

Valse profete. In sy mees verbloemde vorm val Satan die kerk van Christus aan deur dit met die bemiddeling van valse profete wat hulleself as gesante van Christus voordoen, binne te dring: "Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie" (2 Kor. 11:13-15; vgl. Matt. 7:15 en 1 Joh. 4:1). Hulle saai verwarring en maak mense van Christus afvallig (2 Kor. 11:2-4) sodat hulle in geestelike duisternis kan wandel. Randy Pike sê tereg van sulke mense: "Theology without regeneration changes men into clever devils." Een van die metodes wat hierdie valse profete gebruik, is om te ontken dat daar ‘n duiwel of ‘n hel is. As dit die geval is, dan het ons nie ‘n Verlosser uit satansmag nodig nie, en kan die duiwel ongehinderd voortgaan om sy werk van verleiding en vernietiging te doen. Hierdie "profete" glo ook nie in ‘n persoonlike Antichris nie, dus sal hulle enige godsdiensleier wat homself as die Christus van alle gelowe voordoen, met ope arms ontvang.

Valse godsdienste. Op ‘n meer openlike wyse word mense deur valse gelowe mislei om die afgode te aanbid wat in werklikheid demone is (1 Kor. 10:20). Die aanhangers van dié gelowe weet nie dat hulle met duiwels besig is wat hulleself agter die maskers van valse gode verskuil nie. Satan verblind sodoende die mense se sinne sodat hulle nie die ware God deur Jesus Christus sal aanbid nie (2 Kor. 4:4). In hierdie gelowe word die Here Jesus nie as God aanvaar nie, en sy kruisdood ook nie as die enigste losprys vir sondaars nie.

Okkultiese magte. ‘n Verdere werkswyse van Satan is deur okkultiese, bonatuurlike magte. Hy koppel dit steeds nie regstreeks aan sy naam nie, sodat mense makliker mislei kan word om daarby betrokke te raak. Deur aktiwiteite soos towery, spiritisme, astrologie, meditasie, fortuinvertellery, psigiese kragte, astrale projeksie, selfgenesing, suggestopedie, buitesintuiglike waarneming en parapsigologie word Satan se misleidingskrag bemark en eksperimenteer mense onnadenkend daarmee asof dit neutrale kragte of magte is.

Satanisme. Die regstreekse openbaring van Satan kan, weens die inherente afstootlikheid van die idee, net aan hoogs misleide en geestelik totaal vervalle mense gedoen word. In die verlede was dit meesal tot klein groepies beperk, maar tans neem dit geweldig in omvang toe. Onder hierdie mense openbaar hy homself en sy demone in al hulle afskuwelikheid en bloeddorstigheid, en dring op regstreekse aanbidding aan.

Hoewel Satan aan die kruis deur die Here Jesus oorwin is, is hy nog glad nie in ‘n put gebind en uit die stryd uitgeskakel nie. Sy werke kan deur Jesus Christus in ons lewe verbreek word, en ons kan deur die krag van die Heilige Gees teen die Bose se versoekings en aanvegtinge oorwin. Ons móét egter waaksaam bly en die wapens van die lig aangord. Die duiwel sal eers by die wederkoms van Christus van sy magsposisie as die owerste oor ‘n gevalle wêreld ontneem en in ‘n put gebind word. Tot dan sal die stryd voortduur.

Aan die einde van die duisend jaar sal hy vir ‘n kort tydjie losgelaat word om die mense van daardie tyd geestelik te toets. Indien hulle nie waarlik weergebore is en aan die Here behoort nie, sal hulle dadelik in Satan se mag val en saam met hom ‘n hernude aanval op die koninkryk van God loods: "En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind. En die duiwel wat hulle verlei het, is in die poel van vuur en swawel gewerp waar die dier en die valse profeet is; en hulle sal dag en nag gepynig word tot in alle ewigheid" (Op. 20:7-10). Dit sal die uiteinde van Satan se val en vernedering wees, en hy en sy misleide volgelinge sal vir ewig in die onuitbluslike poel van vuur bly. Weer­staan hom en gee aan hom geen plek in jou lewe nie (Jak. 4:7; Ef. 4:27).

 

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.