Die Afgode Waarmee Mense Onwetend Flankeer

DIE AFGODE WAARMEE MENSE ONWETEND FLANKEER

Om afgode te dien (Deut 8:19), te vereer (Deut 17:3), te maak (Ex 34:17), te verdra (Jos 2:14), te akkommodeer (Deut 5:7), na te jaag (Deut 6:14), te vertroetel (1 Joh 5:21), te vertrou (Jes 42:17), te vrees (Rigt 6:10) en selfs net te vermeld (Ex 23:13) is in die oë van Yahweh 'n gruwel ("abomination") wat onder sy mense uitgeroei moet word. In die Ou Testament word afgodediens in die sterkste moontlike taal veroordeel en onder meer met geestelike hoerery vergelyk (Ex 34:15; Deut 31:16; Rigt 2:17). In die Nuwe Testament word dit beklemtoon dat hulle wat heidense praktyke beoefen nie die koninkryk van Yahweh sal beërwe nie (1 Kor 6:10; Gal 5:20-21; Efes 5:5; Openb 21:8) en dat gelowiges NIKS met afgodediens te make moet hê nie (1 Kor 10:14). Sou die Woord van Yahweh so duidelik oor 'n saak praat as dit nie iets is waaroor Hy baie sterk voel nie?

Sommiges sal dadelik beswaar maak en sê dat ons moderne samelewing nie meer so deurtrek is van afgode soos in die antieke tyd nie en dat afgodediens in sy "primitiewe" vorm iets is wat nie meer vandag algemeen voorkom nie. Of so 'n stelling nou waar is, of nie, is nie regtig ter sake nie. Die Skrif sê ondubbelsinnig ons mag NIKS met afgodediens te make hê nie. Ons mag nie die weë van die heidene aanleer nie (Jer 10:2); ons mag hulle werke nie navolg nie (Ex 23:24). Oor en oor word die volk gewaarsku: oppas vir die STRIK en die VERLEIDING van afgodediens (Ex 23:33; Deut 7:16; Deut 11:16; Deut 13:13; Rigt 2:3). Paulus sê daar kan geen ooreenkoms tot stand kom tussen die tempel van Elohim (d.w.s. die gelowiges) en afgode nie. "Daarom," sê hy, "gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek Yahweh; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem" (2 Kor 6:16-17). Of dit nou afgodediens in sy mees eksplisiete vorm is, en of dit die meer subtiele en onopsigtelike (moderne) gestaltes van afgodediens is - dit is teen die wil van ons Vader dat enige van sy kinders daarby betrokke raak.

Waarom is die Skrif so sterk teen afgodediens gekant? Omdat Yahweh 'n heilige en 'n jaloerse Elohim is! As Hy iemand roep om Hom te volg, verwag Hy dat so iemand ook heilig (d.w.s. afgesonderd vir Hom) sal wees (Lev 11:44; 1 Pet 1:15-16). Hy is nie bereid om sy eer met enige iemand of enige iets te deel nie (Jes 42:8). Hy is 'n jaloerse Elohim (Ex 20:5) en Hy verlang sy volgelinge se onverdeelde lojaliteit en toewyding. Al is die afgode nietig en leweloos en magteloos (Deut 32:21; 1 Sam 12:21), is hulle nogtans nie skadeloos nie. Hulle maak dat daar 'n wig ingedryf word tussen mense en Yahweh; hulle maak dat mense Hom vergeet en dink dat hulle sonder Hom kan klaarkom (Deut 8:19). Hulle maak dat 'n mens struikel op jou pad en op 'n dwaalspoor beland (Jer 18:15).

Kom ons kyk na 'n gedeelte in die Nuwe Testament wat oor afgodediens gaan. "Maar destyds, toe julle Elohim nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle Elohim ken, of liewer deur Elohim geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het" (Gal 4:8-11). Paulus sê die gelowiges in Galasië het hulle voor hulle bekering met afgodediens en allerlei heidense praktyke besig gehou (onthou, die meerderheid Galasiërs was nie Jode nie). Noudat hulle egter tot geloof gekom het, lyk dit asof hulle weer van voor af by hierdie dinge betrokke wil raak en "terugkeer tot swakke en armoedige eerste beginsels". Talle christene lees dinge in hierdie gedeelte wat Paulus nooit gesê het nie. Hulle sê die dinge waarna die Galasiërs "teruggekeer" het, is dinge soos die Sabbat en die feeste waarvan die Ou Testament praat, want Paulus verkwalik hulle dat hulle "dae en maande en tye en jare" waarneem.

Hierdie gedeelte gaan egter oor praktyke wat met AFGODEDIENS te make het. Dit gaan oor "dae en maande en tye" wat deur die heidene gevier word (hulle wat "Elohim nie geken het nie"). Die Sabbat en die feeste van Yahweh is nie "swakke en armoedige eerste beginsels" nie en word nooit so in die Skrif genoem nie. Paulus, wat self die Sabbat en feeste gehou het en eendag gesê het "Ek moet beslis die komende fees in Jerusalem vier" (Hand 18:21), sal nooit die Sabbat of die feeste, of enigiets wat deel uitmaak van die wet van Yahweh, as "afgodediens" bestempel nie. Die dae en maande en tye waarvan hy hier praat is dus sonder enige twyfel dae en maande en tye wat deur heidense nasies onderhou word en wat die Galasiese christene nog steeds wou onderhou - net soos hulle (as 'n vaste tradisie) al die jare voor hulle bekering gedoen het!

Die situasie in Galasië klink verbasend baie na die situasie vandag, wanneer dit kom by praktyke ("dae" en "tye") soos Kersfees, Paasfees, Valentynsdag en Haloween, waarvan die wortels almal baie diep in heidense afgodediens lê. Sonder om hier meer besonderhede oor die heidense wortels van hierdie "feesdae" te gee, kan die vraag met reg gestel word: Doen ons nie presies dieselfde as die Galasiërs deur "terug te keer" tot "die swakke en armoedige eerste beginsels" wanneer ons wat "uit die duisternis geroep is tot sy wonderbare lig" (1 Pet 2:9) aanhou om dae te vier wat sonder enige twyfel met afgodediens verband hou nie? Is ons nie dan soos iemand wat, nadat hy jarelank in 'n donker klooster gewoon het waar hy nooit enige lig gesien het nie en toe eendag tot sy groot vreugde 'n manier gevind het om buite in die sonlig te kom, besluit om liewer in die klooster te bly en nooit weer die sonlig te geniet nie?

Afgodediens beteken om jou rug te draai op Yahweh en sy weë wat Hy aan jou bekend gemaak het en 'n soort godsdiens na te volg of uit te dink waarin sy Woord nie in ag geneem word nie. Daarom kom dit neer op afgodediens as sy wette en sy verordeninge nie ernstig opgeneem word nie (Jer 16:11). Wanneer elkeen "wandel na die verhardheid van sy bose hart, om na My nie te luister nie" (Jer 16:12). Dit kom eweneens neer op afgodediens as mense die boodskap van die Skrif volgens hulle eie voorkeure verskraal of verbreed. In Deut 4:2 lees ons: "Julle mag by die woord wat ek julle beveel, niks byvoeg nie, en julle mag daar niks van weglaat nie; sodat julle die gebooie van Yahweh julle Elohim mag onderhou, wat ek julle beveel." Die konteks van hierdie gedeelte laat blyk duidelik dat dit in die oë van Yahweh 'n vorm van afgodediens is wanneer mense iets by sy woorde probeer byvoeg of weglaat. Hoeveel "christene" is daar nie vandag wat te kenne gee dat hulle Yahweh met hulle hele hart dien, maar die Woord met 'n sker en 'n pot lym benader sodat hulle dit "na smaak" kan verklein of vergroot nie?

In Ps 106:34 en 35 staan die volgende woorde: "Hulle het die volke nie verdelg soos Yahweh aan hulle gesê het, maar hul met die heidene vermeng en hulle werke geleer". Wanneer ons ons wandel met Yahweh VERMENG met enige bestanddeel wat uit die heidendom kom en die werke (en gebruike en tradisies) navolg van hulle wat Yahweh nie ken nie, is ons besig met afgodediens. Die Vader verlang dat ons diens en ons toewyding aan Hom suiwer en onbesmet sal wees (Jak 1:27) en dat die bruid wat binnekort voor die bruidegom gaan verskyn "sonder vlek of rimpel of iets dergeliks" sal wees, ja, "heilig en sonder gebrek" (Efes 5:27). Dit het tyd geword vir die bruid van Yahshua om na vore te tree en alles wat besoedel en verontreinig uit haar midde te verwyder. Hierdie proses is 'n radikale proses waarin dit geen doel dien om nog aan enigiets vas te hou wat van twyfelagtige herkoms is nie.

Iemand het die volgende definisie vir afgodediens geformuleer: "Whatever of wealth or honor or pleasure is loved and sought before (Yahweh) and as righteousness becomes an object of idolatry". Alhoewel dit nie 'n omvattende definisie is nie, is dit tog baie waar en dit gee vir ons 'n goeie aanduiding van die dinge wat vandag as afgode in mense se lewens funksioneer. Die belangrike om hier raak te sien is dat 'n goeie ding, selfs 'n kerklike of 'n Bybelse aktiwiteit, so nagejaag en op die voorgrond geplaas kan word, dat dit 'n afgod word vir die wat daarmee besig is - 'n aktiwiteit (wat met Yahweh te make het) wat die plek in ons lewens begin inneem wat alleen vir Hom beskore is. ◊

 

 

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.