Kersfees, die geboortedag van die Messias?

Kersfees, die geboortedag van ons Messias?

Inleiding

Die BeeGees se liedjie "First of May" begin met "When I was small and christmas trees were tall," en die Gospelsanger David Meece se "I am the reason" begin "As little children we would dream of Christmas morn". Kersfees is deel van daardie tradisie wat meeste in die Protestantse geloof en almal in die Roomse geloof en menigte ander mee groot geword het.

Einde September tot vroeg Oktober van elke jaar begin die kommersiële aktiviteite van meeste maatskappye wat weereens hulle tande slyp om so groot deel as moontlik van die kerspastei te kan kry. Vanaf November en regdeur Desember tot vyfuur, sesuur die middag op 24 Desember hoor jy net kersfeesmusiek in elke winkel en inkopiesentrum. Selfs en veral in díe wat deur Moslems en sekulêre Judaïste bestuur en besit word.

As gelowige behoort dit jou dwars teen die bors te stuit! Moontlik het jy al gesê: "Hoe kan die Kerk hierdie kommersialisering van kersfees toelaat?" Moontlik het jy al by jou predikant of pastoor gekla. Jy het dalk al petisie op petisie geteken sonder dat dit enige effek het. Kersfees is INTERNASIONAAL. Dit word in byna elke wêrelddeel gevind en byna elke kultuur. Dit is deel van die wêreld eenwording van geloof. Die ekumeniese beweging van die Roomse Kerk.

Het jy al jouself afgevra waar kom dit vandaan? Is dit regtig my Messias se geboortedag? Is dit Skriftuurlik?

Die Oorsprong

Lank, baie lank, voor 25 Desember die naam KERSFEES gekry het, het die sonaanbidders hierdie datum gevier as die geboortedag van die son. Semiramis, ook bekend as die hemelkoningin en Ishtar, het reeds vroeg opdrag gegee dat hierdie dag as haar seun Tammuz se geboortedag te vier. (Jir 7:18; 44:17) Die datum is deur haar astroloë vasgestel as die dag wat die son die verste van die aarde is. Dit het dan ook die datum geword waarop die sonidool (songod) regoor die wêreld aanbid is.

Hierdie fees het gepaard gegaan met dronkenskap, brassery en vele ander vorme van immoralliteit. Beelde is gedurende hierdie tyd aan mekaar gegee en veral aan kinders. In die vroegste tye is kinders ook tydens hierdie feeste aan die sonidool geoffer. Dit sluit ook direk aan by die kinders (veral babaseuns) wat aan Baäl en Molog lewendig geoffer is. (Jir 32:35)

In Rome was daar ʼn soortgelyke fees. Rome het in antieke dae bekend gestaan as Saturnalia. Hierdie fees bekend as Saturnalia of Saturnalieë of net die Fees van Saturn (Saturnus) het reeds op die 17de begin en geduur tot die 23ste met die finale geboorte herdenking op die 25ste.

Hierdie feeste het gepaard gegaan met dronkenskap, brassery en vele ander vorme van immoraliteit. Beelde is gedurende hierdie tyd aan mekaar gegee en veral aan kinders. Kinders is ook tydens hierdie feeste aan Baäl, Saturn of watter naam ook al geoffer. Dit het egter nie by al die feeste gebeur nie.

Wat egter baie lig hier werp op die gebeure is die ondersoek van die woord KANNIBAAL. Die Hebreeuse woord KOHEN, COHEN, KAHN. Ander Semitiese tale gebruik KAHNA of CAHNA. Die priester van Baäl is dus ʼn KAHNABAÄL. Volgens die gebruike van die priester weet ons dat die priesters van die offerandes moes eet. So het hulle dan ook mensvleis geëet.

Die Spanjaarde wat na die Karibiese eilande gereis het het die inwoners as CANIBALES beskryf. Die oorsprong vind ons duidelik aangesien die Spanjaarde bekend was met kannibalisme van die Punisiese kultuur wat sy oorsprong in Fenisië het.

Hedendaagse Gebruike

Die kersboom word in alle opsogte met kersfees geassosieer. Daarmee tesame ook die joelblok, mistel, sinterklaas, kersvader en verskeie ander gebruike. Hierdie word breedvoerig behandel in die stuk "Die ware gees agter kersfees".

Die Geboorte van Jahushua Messias

Die meeste geleerdes, gelowig en sekulêr, is dit deesdae eens dat die geboorte van Jahushua nie op 25 Desember was nie. Die volgende redes behoort voldoen bewys te lewer:

  • Winter in Jisra'el is uitermate koud en geen herder wat vir sy skape omgee sal met hulle buite in die veld sit gedurende die winter nie. Al dink baie mense dat Jisra'el warm is sneeu dit ook gereeld in die omgewing van Jarushalajim en Beit Lechem (Betlehem).
  • Winter is ook nie ʼn goeie tyd vir ʼn sensus nie. Die beste tyd sou wees tydens een van die feeste.
  • Gedurende die feeste was nie net Jarushalajim nie, maar ook die omliggende dorpe (ook Beit Lechem) van hoek tot kant vol mense.
  • Jahushua het die Pesach (paasfees) met Sy dood op die presiese dag vervul. So het Hy ook die Eerste Opbrengs vervul met Sy opstanding. Hy het ook Shavuot (fees van die weke) vervul met die stuur van Sy Gees na ons. Die mees logiese tyd vir die geboorte is dus Sukkot (huttefees). Hy het immers onder ons kom woon. Hy is Immanu'El wat beteken Elohim by ons!

Dit is ook die mees logiese tyd vir Sy terugkeer, want dan kom Hy permanent by ons woon. Dit is ook die tyd wat die ramshorings geblaas sal word.

Lees gerus die artikel Jahushua in Pesach.

Maak dit Werklik Saak?

Daar is verskeie groepe en individue wat vra of dit nou werklik saak maak. Hulle vier dan kersfees "tot eer van Jesus". Ander weer sê dat hulle nie kersfees vier nie maar "Christusfees". Hulle bedoel natuurlik ons Messias en nie die Griekse Christus nie. Hulle voer aan ons vier dan ons eie geboortedae, hoekom nie dié van ons Verlosser nie? Daar is ook nog vele ander "verskonings" wat geen gronde het nie.

Ten spyte daarvan dat hulle die Naam verkeerd het, sit hulle ook die Skriftuurlike beginsel heeltemal mis. ʼn Hebreeuse gebruik (en ook onder hedendaagse Jahudim (Jode)) is om die dag van dood te gedenk. ʼn spesiale gebed (Kaddish/Kaddisj) word vir die dooie gesê, nie tot sy voordeel nie maar om lof en aansien aan ons Vader en Skepper te bring. Die Skrif dui op geen plek aan dat geboortes herdenk of gevier is nie. Die Skrif is ook baie stil ten opsigte van Jahushua se geboorte datum.

Jahushua gee ons egter direk opdrag om Sy dood te gedenk (Luk 22:19). Selfs dit doen ons nie op die wyse wat ons moet nie ne vermeng dit met die fees van Ishtar. Daar is egter geen Skriftuurlike opdrag nie en die mens het maar self besluit.

Uit die Skrif sien ons ons kan JHWH nie behaag met ons eie gedagtes en besluite nie, hoe "goed" ons dit ookal mag bedoel:

Maar Nadav en Avíhu het voor JHWH gesterf toe hulle vreemde vuur voor JHWH in die woestyn Sinai gebring het. (Deb [Num] 3:4)

Hierdie seuns van Aharon het vuur (kole) geneem wat nie volgens JHWH se bevel afgesonder was nie. Vir hierdie ongehoorsaamheid word hulle met die dood gestraf.

En hy het op die altaar geoffer wat hy in Beit-El gemaak het, op die vyftiende dag in die agtste maand, in die maand wat hy uit sy eie hart versin het, en vir die kinders van Jisra'el ʼn fees ingestel en op die altaar geoffer en offerrook laat opgaan. (1 Mel [Kon] 12:33)

Jarov'am het sy eie fees ingestel met sy eie offers. Dit was sy eie mensgemaakte religie. Nooit het JHWH gesê dat Sy Feeste uitsluitlik vir Hebreërs, Jisra'el of Jode is nie. Inteendeel, Hy noem dit SY FEESTE. EN dus moet elkeen wat Hom aanbid Sy Feeste hou!

"Praat met die kinders van Jisra'ěl en sê vir hulle: ‘Die feestye van JHWH wat julle moet uitroep as afgesonderde same-komste dit is My feestye. (Waj [Lev] 23:2)

‘Hierdie is die feestye van JHWH, die afgesonderde byeenkomste wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd. (Waj 23:4)

Hierdie feeste word begin deur die Sabbat wat die fondasie vorm. Daarbenewens is daar Pesach (paasfees - nie Easter nie!), Chagh haMatzah (Ongesuurde Brood), Omer Reshit (Eerste Opbrengs/Vrugte), Shavuot (fees van die weeke - by sommige bekend as pinkster), Rosh haShana (Fees van Basuingeklank), Jom Kippur (Groot Versoendag) en Sukkot (Loofhuttefees). Die keuse is ons eie om fees te vier volgens JHWH se opdragte of volgens ons eie of mensgemaakte idees!

In Shemot (Exodus) 32 kry ons nog ‘n skokkende voorbeeld. Aharon het ‘n goue kalf gemaak en uitgeroep: "Môre is daar fees tot aansien van JHWH." Die gevolg was byna die verdelging van die hele volk van Jisra'el! Hulle het nie "bedoel" om ander elohim (gode) te aanbid nie. Hulle het JHWH probeer aanbid. JHWH laat egter GEEN vermenging toe nie. Die Skrif is vol voorbeelde waar Hy dit veroordeel.

Kyk maar hoeveel ‘gelowiges' rondom ons het die beste bedoelinge en wil die ‘Ware God' aanbid: New Age, Islam, Hindoe, Mormone, Jehova Getuies, ens. Dit dra geen gewig nie. JHWH vra gehoorsaamheid. Verwerp ALLES wat nie van Hom is nie! Aanbid Hom in GEES en in WAARHEID volgens Sy bepalings!

Sommige mense wil graag Sha'ul (Paulus) se woorde van Galasiërs 4 gebruik om aan te toon dat die werklike Feeste van JHWH nie meer gevier hoef te word nie:

9 "Maar nou dat julle Elohim ken, of liewer deur Elohim geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? 10 Julle neem dae en en maande en tye en jare waar. 11 Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het." (Gal 4:9-11)

Hierdie is nie ‘n geldige verweer nie. Enige iemand wat wil aanvoer dat Sha'ul hier van die Sabbat en JHWH se ander Feeste praat wys egter net hulle onvermoë om die Skrif te verstaan. Hierdie brief is nie aan Jahudim gestuur wat Jahushua aanvaar het as Verlosser nie, maar na mense wat uit die heidendom tot geloof gekom het. Daar word juis met hulle gepraat oor die viering van feeste soos Saturnalia en die sondag! Die ironie van die saak is dat presies hierdie dae, maande, tye en jare waarna Sha'ul verwys deur die Roomse Kerk as "Christelike" dae gevestig is en die spesifieke Feeste van JHWH is afgeskaf.

Slot

Ten slotte moet die vrae gevra word:

  • Kan ek as gelowige, as kind die die enigste Ware Elohim, Hom dien met dit wat wat sy oorsprong in heidense aanbidding het?
  • Kan ek my eie dae en tye kies?
  • Kan ek besluit wanneer feeste vir JHWH gevier moet word?
  • ek besluit watter Feeste van JHWH afgeskaf mag word?

Die antwoord op al hierdie vrae behoort NEE te wees. Indien jou antwoord op enige vraag JA sou wees is daar duidelik ʼn tekort aan Skriftuurlike insig en kennis. My innige versoek aan elke persoon wat glo hy kan maar self besluit, moet die Skrif weer van voor gaan deur lees, verkieslik in Hebreeus en Grieks. Gaan maak seker van die Waarheid en moenie alles glo wat deur die eeue opgedis is nie. Omein

Bronne

1. Die Skrifte - Letterlike Vertaling nog nie voltooi nie

2. Die Bybel (1953) - Bybelgenootskap van SA

3. The Two Babylons - Alexander Hislop

4. Gaan uit haar uit, My volk - CJ Koster

5. The Catholic Encyclopedia - Online

6. The Story of Christianity - Michael Collins & Matthew A Price

7. Elim webtuiste - John Wahl

 

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.