Liggaamdeurprieming (Body Piercing)

LIGGAAMDEURPRIEMING (Body Piercing)

'n Terugkeer na die heidendom

In van die mees onverwagte plekke kom ons te staan voor 'n oplewing in die ou heidense stamgebruike van insnydings in die vel, liggaamlike deursteking en liggaamskending. Neusringe, wenkbrouringe, buikringe, tongknopies, veelvoudige oorringe, tepelringe, tatoeëring en ander mismaakthede is nie maar net ‘n herkenbare kultuurgroep nie - dit is alles deel van 'n aanvallende mode standpunt waarmee die Christenkerk uitgedaag word.

"Julle mag ook ter wille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE." Levítikus 19:28

Dit is jammer dat meeste van dié wat in die kerk die leiding neem swyg oor hierdie praktyk, selfs terwyl sommige jeugleiers en Bybel-kollege studente hulleself oorgee aan hierdie soort verandering van hulle liggame.

"Hulle mag op hulle hoof geen kaalte maak ... en in hulle vlees geen insnyding maak nie. Heilig moet hulle aan hulle God wees en die Naam van hulle God nie ontheilig nie ... daarom moet hulle heilig wees." Levítikus 21:5 - 6

As Christene word ons opgeroep om heilig, afgesonder van, en anders as die wêreld te wees, asook aan God toegewy. "Almal doen dit" is beswaarlik ‘n aanvaarbare rede om enige Christen se betrokkenheid te regverdig. Die blote feit dat dit heidene is wat liggaamlike deursteking beoefen, behoort al klaar genoegsame rede vir Christene te wees om nie aan die wêreld gelykvormig te word nie.

"Maar julle is 'n uitverkore geslag (genelyn), 'n koninklike priesterdom, 'n heilige volk, 'n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig." (1 Petrus 2:9)

Die Skrif toon duidelik aan dat ons ons liggame met die nodige agting moet behandel -- dit is nie ons eie om maar daarmee te maak net wat ons wil nie. Dit behoort aan God wat dit geskape en met Sy eie bloed gekoop het. Ons liggame moet tempels van die Heilige Gees wees. Ons moet immers God in ons liggaam verheerlik.

"Weet julle nie dat julle liggame lede van Christus is nie? ... Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort." 1 Korinthiërs 6:15, 19-20

Aan die ander kant is ook in die Bybel opgeteken hoedat heidene hulle liggame mishandel het. Die valse profete van Baäl het "hulleself volgens hul gebruik met swaarde en spiese stukkend gekerwe tot die bloed op hulle uitgespuit het." 1 Konings 18:28.

Die besetene van Gádara het homself met klippe stukkend geslaan en sonder klere geloop (Mar. 5:5, 15). Dit was die gebruik by die Ismaelitiese mans om goue oorringe te dra. (Rigters 8:24).

'n Deursteekte oorbel is volgens die Bybel 'n openlike aanduiding van voortdurende slawerny.

"Maar as die slaaf reguit sê: Ek het my heer, my vrou en my kinders lief; ek wil nie as vryman weggaan nie-- 6. dan moet sy heer hom na die owerhede bring en hom by die deur of die deurpos bring; en sy heer moet sy oor met 'n els deurboor; daarna moet hy hom vir altyd dien." Exodus 21:5 - 6

Maar as hy vir jou sê: Ek wil nie van jou weggaan nie--aangesien hy jou en jou huis liefhet, omdat dit vir hom goed was by jou- 17. dan moet jy 'n els neem en dit deur sy oor en in die deur steek, sodat hy vir altyd jou slaaf word; en ook met jou slavin moet jy net so doen. Deuteronomium 5:16 - 17

Nadat God met Jakob gepraat het, het hy sy huisgesin en almal wat by hom was aangesê om die vreemde gode wat in hulle besit was te verwyder en om hulleself te reinig. Saam met al die vreemde gode het hulle die ringe aan hulle ore ook begrawe.

"Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan; ......Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe ,......." Génesis 35:2,4

Dit was nog altyd die reaksie by heidense mense nadat hulle die Evangelie van Christus aangeneem het. Van Papoea Nieu-Guinee tot die Amasone-oerwoud doen heidense stamme mee aan insnydings in die vel, oorringe, neusringe, tongknopies, veelvuldige deurstekings en tatoeëring. As hulle egter eenmaal tot bekering in Christus gekom het, laat vaar hierdie stamme al daardie gebruike om hulle liggame te verander.

"Jy moet die Here jou God vrees en Hom dien ... Julle mag nie agter ander gode aan loop uit die gode van die volke wat rondom julle is nie - want die Here jou God is ‘n jaloerse God by jou - sodat die toorn van die Here jou God nie teen jou ontvlam...nie. ... Julle mag die Here julle God nie versoek...nie. ... Julle moet die gebooie van die Here julle God en sy getuienisse en sy insettinge wat Hy jou beveel het, ywerig onderhou. En jy moet doen wat reg en goed is in die oë van die Here, dat dit met jou goed kan gaan ... As jou seun jou later vra en sê: Wat beteken die getuienisse en die insettinge en die verordeninge wat die Here onse God julle beveel het? dan moet jy aan jou seun sê: Ons was slawe van Farao in Egipte; maar die Here het ons deur 'n sterke hand uit Egipte uitgelei..." Deuteronómium 6:13 - 21

Dit is heeltemal onvanpas vir 'n Christen man om 'n oorring - wat die merkteken van slawerny is - te dra. Wat dalk vir 'n vrou gepas mag wees is nie noodwendig vir 'n man passend nie. Dit wat deur die wêreld beoefen word is selde vir 'n Christen geskik.

"Want julle is tot vryheid geroep, broeders; gebruik net nie julle vryheid as 'n aanleiding vir die vlees nie, maar dien mekaar deur die liefde." Galásiërs 5:13

Lewe "as vrymense en nie asof julle die vryheid het as 'n dekmantel vir die boosheid nie..." 1 Petrus 2:16

"Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie." Galásiërs 5:1

As iets vir die wêreld aanvaarbaar is en dit kom baie algemeen voor, behoort dit al klaar ‘n dwingende rede vir ons as Christene te wees om nie met hulle modes en grille saam te gaan nie. Ons word opgeroep om anders te wees. Ons moet met ons liggame aan God eer bewys.

"Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, heilige en aan God welgevallige offer - dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is." Romeine 12: 1-2

Ons liggame is van belang. Dit moet aan God as heilige offers aangebied word - op 'n wyse wat vir God welgevallig is. Ons behoort nie die heidene se voorbeeld na te volg nie. Om ons liggame te deurpriem is beswaarlik 'n manier om dit as tempels van die Heilige Gees te eerbiedig. Blywende skending van ons liggame is 'n skreiende rebellie teen ons Skepper en Verlosser.

"Geliefdes, ek vermaan julle as bywoners en vreemdelinge om julle te onthou van vleeslike begeertes wat stryd voer teen die siel." 1Petrus 2:11

'n Deel van die Bybelse beskrywing van 'n hoer is dat sy: "haar met haar neusring en haar halssierade versier ... maar My het sy vergeet, spreek die Here." (Hoséa 2:12)

"Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld." Psalm 36:3

"Laat ons ons weë naspeur en deursoek en ons tot die Here bekeer." Klaagliedere 3:40

"Om met hierdie oordadige mode standpunte op onsself aandag te trek is nie juis in ooreenstemming met die opdragte in die Bybel om beskeie en ingetoë te wees nie" Spreuke 21:4; 1 Timótheüs 2:9-10.

"Julle versiering moet nie uiterlik wees nie ... maar die verborge mens van die hart in die onverganklike versiering van 'n sagmoedige en stille gees ..." 1Petrus 3:3- 4

Die huidige obsessie met liggaamsverandering by baie is 'n herlewing van die stam-stelsel. Dit behels 'n pynlike ontgroeningsritueel wat 'n identifisering met 'n sekere stam, familiegroep of kultuurgroep bewerkstellig. Die Kacipo-mense in die Soedan rek hulle onderlip sodat 'n pieringgrootte erdewerk daarin pas; en hulle rek hul oorlelle om 'n groot gat daarin te skep en lang oorlelle te vorm. Onder die Nuba-stamme in die Soedan is veelvoudige oorringe, neusringe, insnydings in die vel en liggaamsbeskildering baie algemeen. Die Dinka- en Nuer-stamme in die Soedan is maklik uit te ken aan die littekenpatrone op hulle voorkoppe. Onder die Hindoes is neusknopies, buikringe, toonringe, tongknopies en wenkbrouringe baie algemeen. Tatoeëermerke aan die Amasone-stamme dien om die onderskeie lede van 'n bepaalde stam uit te ken. In Papoea Nieu-Guinee word die verskillende stamme uitgeken aan 'n verskeidenheid van insnydings in die vel, tatoeëermerke en liggaamskendings. Insgelyks onderskei wenkbrouringe, neusringe, veelvoudige oorringe, tepelringe, buikringe en tongknopies uitkenbare kultuurgroepe in New York, London, Parys en ander hoofstede van wat veronderstel is om die beskawing te wees.

"Die uitdrukking van hulle gesig getuig teen hulle, en hul sonde maak hulle bekend, soos Sodom, sonder om iets weg te steek. Wee oor hulle siel, want hulle doen hulself kwaad aan!" Jesaja 3:9

Dit is interessant dat, terwyl so baie Westerlinge na nuwe-tydperk ("new age") godsdienste, liggaamlike deursteking en okkultisme hardloop, etlike miljoene in die genoemde stamme in Afrika, Suid-Amerika, Asië en die Pasifiese eilande, na Christus bekeer word en die liggaamlike deursteking-gebruike van hulle heidense verlede laat vaar. In hierdie sendingvelde is dit baie duidelik wie Christene en wie heidene is. Die heidene dra min of geen klere nie en hulle beoefen 'n verskeidenheid van insnydings in die vel, liggaamlike deurstekings en/of tatoeëring. Hierteenoor is die Christene maklik uit te ken - hulle is gekleed en hulle beoefen nie veranderinge aan hulle liggame nie.

"Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het." Galásiërs 2:20

Sommige ouer mense sal natuurlik nog die littekens en gate behou - as 'n getuienis van hulle heidense verlede voor hul bekering - maar alle oorringe, wenkbrouringe, neusringe en sulke dinge sal hulle dan van ontslae geraak het. En hulle kinders sal van hierdie heidense mismaakthede vry wees. In hierdie gebiede is dit ongehoord dat Christene uit vrye wil hul liggame sal laat deurpriem of tatoeëer. Trouens, hulle is geskok wanneer Westerse mans met poniesterte of oorringe by hulle besoek aflê.

"Julle is kinders van die Here julle God; julle mag julle terwille van 'n dooie nie stukkend kerwe of 'n kaalte tussen julle oë maak nie. Want jy is 'n volk heilig aan die Here jou God..." Deuteronómium 14: 1-2

Hoe verklaar ons dan die vry algemene verdraagsaamheid van, en selfs die meedoen aan, liggaamlike deursteking in hoegenaamd te veel Christelike Kerke as mede Bybel-kolleges en bedieninge in die Weste?

"Weet julle nie dat julle 'n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie? As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle. Laat niemand homself mislei nie..." 1 Korinthiërs 3: 16-18

Oor die algemeen neem dit 'n aanvang met die aanvaarding dat as oorringe vir vroue gepas is, dan is dit ook vir mans geskik. Sommige vroue redeneer dan dat as mans oorringe gaan dra, dan sal hulle veelvoudige oorringe dra. En aangesien soveel in die wêreld neusringe, wenkbrouringe, buikringe, tongknopies, ens. dra, waarom sal ons dan nie?

"Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God." Jakobus 4:4

Aangesien so baie Christene hulleself verdiep het in heidense musiek, onsedelike video's en wêreldse vermaak, behoort dit ons nie te verbaas dat so baie van ons jong mense nie van hulle nie-Christen vriende te onderskei is nie. Die verstands-verrottende, brein-verdowende, sieldodende gemors wat die ore, oë en gemoedere van ons jeug vul, behoort voldoende verklaring te wees vir die teruggevalle, onsedelike en onchristelike gedrag wat nou selfs belydende Christene insluit wat hulle liggame skend met heidense deurstekings.

"Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie." Romeine 3:18

Dit is tyd dat Jeugleiers en Leraars bestudeer wat die Skrif oor hierdie onderwerp leer en om dan moedig, en sonder kompromis, oor hierdie teksverse te preek en op daardie mense wat hulle liggame besoedel 'n beroep te doen om hulle te bekeer. Ons het nodig om God se Woord met erns te bejeën.

"Terwyl ons dan hierdie beloftes het, laat ons ons van alle besoedeling van die vlees en die gees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring." 2 Korinthiërs 7:1

"En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!" 1 Thessalonicense 5:23

_______________________________

 

 

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.