Die Wegraping

Die Wegraping

Deur Johan Malan

Opsomming: Die belofte oor die wegraping is van die allergrootste belang. Hierdie gebeurtenis sal die kerkbedeling afsluit  wanneer die ware Christene na die hemel weggevoer word om voor die regterstoel van Christus te verskyn. Verwag jy dit en is jy hierop voorbereid?

Die belofte

Die leer oor die wegraping is saam met die leerstellings oor die herstel van Israel en die duisendjarige vrederyk op aarde in verskeie stadiums van die kerkgeskiedenis deur teoloë vergeestelik en op die agtergrond geskuif. Saam met ander Bybelse waarhede het die geloof in hierdie beloftes egter telkens weer herleef en ‘n sterk motiverende krag in die lewens van Christene geword.

Ons leef in ‘n tyd waarin daar talle Bybelse profesieë in vervulling gaan, en dit dui op die spoedige wederkoms van Jesus Christus. Soos wat mense die profetiese woord ter harte neem en bestudeer, verkry hulle ook meer duidelikheid oor toekomstige gebeure. Hulle sien ‘n wêreldtoneel ontvou wat enersyds baie donker is en op geweldige oordele afstuur, en andersyds vlam ‘n verblydende hoop in die harte van gelowiges op dat hulle die komende oordele kan ontvlug as hulle saak met die Here waarlik reg is. Die belofte van ontvlugting is die goeie nuus element in die profesieë en is die salige hoop waaraan elke Christen in hierdie donker dae moet vashou (Titus 2:13).

Twee fases

Om die wederkoms reg te kan verstaan moet die twee fases daarvan duidelik onderskei word, naamlik Christus se koms vir sy heiliges en sy koms met sy heiliges. Gedurende die eerste fase kom die hemelse Bruidegom baie onverwags, soos ‘n dief in die nag, om sy bruid te kom haal. Hy ontmoet haar in die lug en voer haar vinnig na hemelse plekke weg (Joh. 14:2-3; 1 Thess. 4:16-17; 1 Thess. 5:2). Gedurende die tweede fase kom Hy in die openbaar sodat elke oog Hom sal sien. Hy word vergesel van sy bruid, asook ‘n hemelse leërskare, en sit sy voet op die Olyfberg neer (Sag. 14:4-5; Op. 19:11-15).

Die twee fases van die wederkoms blyk ook duidelik uit die verskillende Griekse terme wat in die oorspronklike taal gebruik is. Die eerste fase, wanneer die Here Jesus skielik in die midde van sy bruidsgemeente sal verskyn, word die parousia genoem. Dit dui op sy fisiese teenwoordigheid, en hierna sal Hy nooit weer van sy bruidsgemeente geskei word nie. Hy het nou "verskyn aan die wat Hom verwag tot saligheid" (Heb. 9:28) en hulle sal daarna altyd by Hom bly.

Die tweede fase van die wederkoms staan as Christus se apokalipse of sy faneros bekend - dit is sy openbaarmaking of sigbaarwording. Hy kom nie nou in die geheim om net aan sy bruidsgemeente te verskyn nie, maar Hy word as Regter en Koning aan die hele wêreld geopenbaar. Dit is die "wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges" (1 Thess. 3:13). Jesus Christus en sy heiliges word dus gelyktydig in heerlikheid aan die wêreld geopenbaar:

"Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word" Kol. 3:4

Dit is tog duidelik dat die Christene nie saam met die Here Jesus kan kom en in hulle verheerlikte liggame geopenbaar word, as hulle nie vooraf reeds met Hom verenig is nie. Op hierdie openbaarmaking wag die hele skepping ook, omdat daar tydens die regering van Christus en sy heiliges harmonie en gunstige omstandighede in die hele wêreld sal heers:

"Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God" Rom. 8:19

Die Bruidegom kom sy bruid haal

Tydens die wegraping, wat noodwendig die sigbare koms voorafgaan, kom die hemelse Bruidegom net om sy bruid te kom haal. By hierdie geleentheid vertoon Hy Homself glad nie aan die miljoene ander mense op aarde nie.

In die Bybelse tyd het die Joodse bruidegom ná sy verlowing vir ‘n lang tyd weggegaan om vir hom en sy bruid ‘n woonplek by sy vaderhuis te gaan berei. Daarna het hy haar in die geheim in die nag kom haal sonder dat selfs haar huismense op daardie oomblik daarvan bewus was, en haar saam met hom na sy vaderhuis geneem. Jesus Christus het sy hemelvaart na analogie van hierdie gebruik aan sy dissipels verduidelik:

"In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is" Joh. 14:2-3

Wanneer Jesus Christus dus met sy parousia kom, sal Hy skielik in die midde van sy bruidsgemeente verskyn. Dit sal ook die vervulling van ‘n belofte wees wat tydens die hemelvaart aan volgelinge van Jesus gemaak is:

"Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het" Hand. 1:11

Jesus is ná sy opstanding slegs deur gelowiges gesien. Hy is deur sy hemelvaart van hulle geskei en sal tydens die wegraping met hulle verenig word. Die ander mense sal op aarde agtergelaat word omdat hulle deur hulle eie toedoen nie lede is van die groep wat aan die Here Jesus behoort en met wie Hy ‘n spesiale afspraak het nie:

"In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word" Luk. 17:34

Verheerliking

Die verheerliking van Christene begin op daardie oomblik wanneer die basuin van God sal blaas. Die ontslape heiliges sal dan uit die dode opgewek en die lewende heiliges in ‘n oomblik verander word om almal saam hulle verheerlikte liggame te ontvang:

"Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word" 1 Kor. 15:51-53

Wanneer dit gebeur, sal ons met betrekking tot ons verheerlikte liggame aan Christus gelyk wees - in rang bly Hy steeds by verre ons meerdere omdat Hy die Hoof van die gemeente is:

"Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees" 1 Joh. 3:2

Wanneer Hy skielik in ons midde verskyn, word ons in ‘n oomblik met onverganklike hemelse liggame beklee en sodoende in onsterflike hemelse wesens verander. ‘n Nuwe dimensie van bestaan word dan betree:

"Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam" Fil. 3:20-21

Die wegvoering

Onmiddellik nadat die ontslape én lewende heiliges met verheerlikte liggame beklee is, word hulle van die aarde af weggevoer na die hemel om vir ewig in die teenwoordigheid van die Here Jesus te wees:

"Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" 1 Thess. 4:15-18

Let daarop dat bogenoemde ontmoeting in die lug sal plaasvind en dat slegs Christene daarby betrokke is. Die Here Jesus sit nie in hierdie stadium sy voet op die Olyfberg neer nie, maar keer onmiddellik met sy bruid wat Hy kom haal het, na sy Vaderhuis in die hemel terug.

Die woord weggevoer in 1 Thessalonicense 4:17 [harpazo in Grieks] beteken om vinnig weggeruk te word. Hierdie woord word ook gebruik om die aksie te beskryf wanneer ‘n arend sy prooi gryp en vinnig daarmee wegvlieg.

Die bewering deur sommige van die kritici dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie, is dus van alle waarheid ontbloot. Die woord harpazo kan vertaal word as:

  • wegvoer,
  • wegraap, of
  • vinnig wegruk.

In sy internasionaal erkende Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament, sê K.S. Wuest die volgende oor dié woord:

"HARPAZO. This is a Greek word which has various meanings. It is not translated by one uniform English word. The meanings are as follows: ‘to seize', ‘to carry off by force', ‘to claim for one's self eagerly', ‘to snatch out or away'. It was used proverbially in the sense of ‘to rescue from the danger of destruction'. It was used also of ‘divine power transferring a person marvellously and swiftly from one place to another...' Pay especial attention to 1 Thessalonians 4:17, and see how much new truth you obtain regarding the Rapture of the Church."

     Die volgende is ‘n paar voorbeelde van tekste waarin die begrip harpazo in die Nuwe Testament gebruik word, en waaruit die betekenis daarvan baie duidelik blyk:

  • "En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie" Hand. 8:39
  • "Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede - of dit in die liggaam was, weet ek nie... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel" 2 Kor. 12:2
  • "En toe daar ‘n groot twis ontstaan het en die owerste oor duisend gevrees het dat Paulus deur hulle verskeur sou word, het hy die soldate bevel gegee om te gaan en hom met geweld weg te neem onder hulle uit en in die kamp te bring" Hand. 23:10
  • "...maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk" Judas v. 23
  • "En [die vrou] het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon" Op. 12:5

Laasgenoemde teks verwys na die hemelvaart van die Here Jesus. Hy is dus van die aarde af weggeruk of weggeraap na God en sy troon. Volgens Handelinge 1:11 is Hy in die hemel opgeneem.

Die eerste opstanding

‘n Begrip wat baie nou met die wegraping in verband staan, is dié van die eerste opstanding. By hierdie geleentheid kom die Here Jesus net om die regverdiges te kom haal, daarom sê Paulus: "...die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan" (1 Thess. 4:16).

Hier word hoegenaamd niks van die opstanding van die goddeloses gesê nie. Aangesien ‘n eerste opstanding ook ‘n tweede impliseer, en aangesien ons weet dat die regverdiges én onregverdiges opgewek sal word, is dit duidelik dat die goddeloses eers tydens ‘n latere opstanding opgewek sal word.

In Openbaring 20 word gesê dat die twee opstandings ‘n duisend jaar uitmekaar is. Johannes verwys na Christenmartelare wat in die eerste opstanding opgewek sal word om in die duisendjarige vrederyk op aarde as konings saam met Jesus Christus te regeer:

"...en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding" Op. 20:4-6

Diegene wat deel het aan die eerste opstanding, word salig genoem. Dit is dus ‘n besonder bevoorregte posisie om deelgenote hiervan te wees.

Daar is in verskeie ander gedeeltes in die Bybel onweerlegbare getuienis dat die heiliges eerste opgewek sal word. In 1 Korinthiërs 15 word daar na ‘n orde van opstandings verwys:

"Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het. Want aangesien die dood deur ‘n mens is, is die opstanding van die dode ook deur ‘n mens. Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee" 1 Kor. 15:20-24

Daar kan ‘n tydsgaping van omtrent 2000 jaar wees tussen Christus as die eersteling wat opgewek is, en daarna die wat aan Christus behoort by sy koms. Uit Openbaring 20 is dit duidelik dat daar ‘n verdere 1000 jaar tussen die eerste opstanding en die einde sal verloop wanneer die res van die dode opgewek sal word om hulle oordeel voor die groot wit troon te ontvang.

Let ook op die volgende voorwaardes verbonde aan deelgenootskap aan die eerste opstanding:

"Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry... sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik" Fil. 3:8-11

Wat bedoel Paulus hiermee? Elkeen sal tog opstaan - dit word in alle Christelike belydenisskrifte erken. Wat is dan hierdie opstanding waarvoor Paulus homself beywer en alles inspan om dit te verkry? Dit kan tog nie ‘n algemene opstanding wees nie, want daaraan sou hy in elk geval deel hê. Dit moet ‘n heel besondere opstanding wees waaraan slegs diegene deel sal hê wat Christus geken het, en die krag van sy opstanding, en wat aan sy dood gelykvormig geword het. Niemand kan hierdie gedeelte interpreteer sonder om te erken dat daar eers ‘n opstanding van die regverdiges is voordat die opstanding van die onregverdiges sal plaasvind nie.

In Lukas 20 is daar ‘n stelling wat ook ‘n duidelike bewys is dat daar wél ‘n spesiale opstanding sal wees. Die Sadduseërs het ‘n probleem gestel met betrekking tot die verhouding tussen mans en vroue in die hemel, waarop Jesus geantwoord het:

"...maar die wat waardig geag word om daardie eeu en die opstanding uit die dode te verkry, trou nie en word nie in die huwelik uitgegee nie. Want hulle kan ook nie meer sterwe nie, want hulle is soos die engele en is kinders van God, omdat hulle kinders van die opstanding is" (Luk. 20:35-36).

Dit is duidelik dat daar ‘n bepaalde standaard vir hierdie opstanding vereis word. Kinders van die opstanding word spesifiek as kinders van God gekwalifiseer. U vind ook 'n belofte aan hierdie mense in Lukas 14:

"Maar wanneer jy ‘n feesmaal gee, nooi armes... en jy sal gelukkig wees, omdat hulle niks het om jou te vergeld nie; want dit sal jou vergeld word in die opstanding van die regverdiges"  

Daar sou geen noodsaaklikheid voor gewees het om te sê in die opstanding van die regverdiges indien daar net een algemene opstanding was nie.

Die volgende is terme wat net op die eerste opstanding betrekking het:

  • Die eerste opstanding (Op. 20:6).
  • Die opstanding van die kinders van God (Luk. 20:36).
  • Die opstanding van dié wat in Christus gesterf het (1Thess. 4:16).
  • Die opstanding van die regverdiges (Luk. 14:14).
  • ‘n Beter opstanding (Heb. 11:35).
  • Die opstanding tot die lewe (Joh. 5:29).
  • Die opstanding uit die dode in Jesus (Hand. 4:2).

Wanneer daar na die Christene se opstanding uit die dode verwys word, asook wanneer die opstanding van Christus ter sprake is, word die uitdrukking ek nekroon in Grieks gebruik. Dit beteken uit die dode en word slegs ten opsigte van ‘n opstanding gebruik waarin daar ander dode is wat agterbly. Hierdie uitdrukking, wat 49 keer in die Nuwe Testament gebruik word, waarvan 34 keer in verband met die opstanding van die Here Jesus, word nie een keer in verband met die finale opstanding gebruik nie. Na die tweede opstanding word slegs as toon nekroon verwys, wat die opstanding van die dode is.

Wanneer die wegraping plaasvind, staan die regverdiges met verheerlikte liggame onder die ander dode op [vanuit die dode] en gaan dan met dié wat nog in die lewe is, Christus tegemoet in die lug.

Ontvlugting

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele wees. Dit sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die groot verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle beskou word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie. Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal hierdie mense aan geweldige druk, intimidasie en dreigemente onderwerp word. Indien hulle egter aan die Here getrou bly, sal die Here Jesus hulle saam met die ander ware gelowiges kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug:

"Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" Luk. 21:36

Die aanhangers van die Nuwe Era Beweging se valse vrede sal nie die oordele van die verdrukking ontvlug nie:

"Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid - dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood van ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie" 1 Thess. 5:3

Uit die bogenoemde twee tekste is dit duidelik dat daar in die eerste geval ‘n groep is wat die komende oordele sal ontvlug, en in die ander geval ‘n groep wat onverhoeds betrap gaan word en dit sekerlik nié sal ontvlug nie.

Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken beslis om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens. Die voorvoegsel ek beteken in die Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Die King James vertaling is volkome korrek as dit hierdie aksie van ontvlug as escape vertaal. Ons sal nie hier wees nie.

As gevolg van die omstredenheid van die begrip ontvlug is dit raadsaam om ook hier die uitspraak van ‘n hoogs gesaghebbende Griekse woordeboek aan te haal, naamlik A Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich. Hierin word die grondbetekenis van ekfeugo (ontvlug) met die vermelding van verskeie voorbeelde van die gebruik daarvan aangedui. Die woord ekfeugo kan vertaal word as:

  • na veiligheid ontsnap,
  • ontvlug, en
  • vermy of ontwyk.

Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as ‘escape tribulations' (ontvlugting uit die verdrukking)  aangedui.

In die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983 vertaling) is daar ‘n doelbewuste poging deur die vertalers aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir ‘n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. In Lukas 21:36 het hulle die grondteks verdraai sodat die kerk nou deur die verdrukking moet gaan. Daar is geen ander gevolgtrekking as dat hierdie teks op ‘n berekende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is nie.

Die vertalers is egter nie konsekwent nie en kan ook nie dié fout aan onkunde toeskryf nie, want hulle het die woord ekfeugo in Handelinge 16:27 as ontsnap, in Handelinge 19:16 as gevlug, in 1 Thessalonicense 5:3 as ontkom en in Hebreërs 2:3 ook as ontkom vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op ‘n totaal teenstrydige wyse as behoue deurkom vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit ‘n bepaalde plek of probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle deur die verdrukking gaan!

Die Here bied duidelik aan jou ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is beslis ‘n tyd van goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê: "Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" ( ).

As jy waak en bid en geestelik waardig is, sal jy hierdie oordele ontvlug!

"In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word" Luk. 17:34-36

‘n Dramatiese uitredding

Die wegraping sal ‘n baie besondere en hoogs dramatiese gebeurtenis wees omdat dit ‘n ingryping deur God vir die fisiese uitredding van die gelowiges onder uiters moeilike omstandighede op aarde sal wees. Hoewel die wegraping as gevolg van sy aard en omvang uniek sal wees, was daar al verskeie goddelike ingrypings vir die behoud van gelowiges in tye van oordeel.

In die dae van Noag het God sy oordele oor ‘n bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ‘n plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23).

In die tyd van Lot het daar ook ‘n uitreddingsaksie plaasgevind. Hulle het in die nag voordat Sodom en Gomorra vernietig is, ‘n dringende opdrag gekry om die rampgebied te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17, 22-25).

Daar is ‘n duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking:

"En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word" (Luk. 17:26-30; vergelyk ook Génesis 6 en 19).

Die lyn kan só na moderne tye deurgetrek word:

  • In die tyd van Noag en Lot was daar grootskaalse geestelike en morele verval omdat feitlik almal vrye teuels aan hulle verdorwe natuur gegee het. Die versinsels in mense se harte was altyddeur net sleg, en bandelose gemeenskappe was die gevolg hiervan. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot het anargie geheers en mense het in dié wettelose samelewings gedoen net wat hulle wou. Geweld was die mees algemene metode waardeur konflikte en meningsverskille besleg is. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot was mense totaal materialisties en hulle wou nie die gevare verbonde aan hulle korrupte lewenswyse insien nie. Die sekulêre dinge soos koop en verkoop, en die sensuele dinge soos partytjies, drank en verhoudings met die teenoorgestelde geslag - asook met lede van dieselfde geslag! - het hulle denke en lewe totaal oorheers. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot het die algemene publiek met die manne van God gespot en hulle glad nie aan profetiese waarskuwings oor die oordele van God gesteur nie. Hulle het dit as belaglike en vergesogte stories afgemaak en met hulle roekelose lewenswyse van vleeslike genietinge en hebsug voortgegaan. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot het die Here die vervalle sondaars ‘n billike tyd gegee om hulle van hul bose weë te bekeer. Hulle wou dit egter nie doen nie en het daardeur hulle eie lot verseël. Niemand anders behalwe hulleself kan vir hulle ondergang en ellende geblameer word nie. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot het God op ‘n kritieke oomblik aan die gelowiges ontvlugting gebied deur hulle in ‘n plek van veiligheid te stel voordat Hy die sondaars geoordeel het. Die volgorde is dus: profetiese waarskuwings van naderende oordele, daarna die beveiliging van die gelowiges wat op die herhaalde oproepe tot bekering gereageer het, en dan die oordele oor die sondaars. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot was daar onder die gelowiges nie plek vir vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog aan wêreldse belange verknog was nie. Lot se vrou is ‘n tipe van dié soort mense, en dit het op die laaste oomblik haar lewe gekos. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot het daar kort ná die beveiliging van die gelowiges ‘n skrikwekkende toneel afgespeel toe God se genadetyd vir dié groep sondaars verbygegaan het. Dood en verwoesting is gesaai. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag en Lot het die sondaars nie besef hoeveel voorregte hulle geniet het as gevolg van die teenwoordigheid van ‘n paar gelowiges in hulle midde nie. Die Here was bereid om ‘n stad te spaar as daar net tien regverdiges in was. Toe hierdie mense wat soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag geskyn het, skielik weggeneem is, het dit vir die goddelose wêreld waarin hulle gewoon het, nag geword. Dit sal weer so wees...
  • In die tyd van Noag het die spottende wêreldlinge vir die bouers aan die ark gelag en in die verhardheid van hulle harte voortgegaan "en dit nie verstaan voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees" (Matt. 24:39).

Die vyande van God is verduister in hulle gemoed en gaan in eiewaan voort totdat hulle skielik tot ‘n val kom. Dan is daar vir hulle geen redder nie.

Wil jy nie liewer vandag na God se kant oorkom en deur sy Seun se kruisdood met Hom versoen word nie? Hy alleen kan jou waardig maak om die komende verdrukking, wat ‘n oordeel van God oor 'n sondige wêreld is, te ontvlug en saam met Jesus Christus in die veiligheid en vreugde van sy vaderhuis te wees wanneer die uur van die duisternis oor die aarde aanbreek.

Teëhouers

Noag en Lot moes die goddelose mense van hulle tyd aanspreek en deur ernstige en volgehoue waarskuwings tot hulle sinne probeer bring. Die Christene van die Nuwe Testament moet soveel te meer in hierdie kort rukkie voor die wegraping en die verdrukking hulle rol as die sout van ‘n bedorwe aarde en die lig van ‘n donker wêreld vervul. Hulle het die uitdruklike opdrag om te midde van die opmars van die magte van die Antichris as teëhouers op te tree:

"En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen" 2 Thess. 2:6-9

As jy bostaande gedeelte noukeurig lees, sal jy jouself van verskeie populêre maar onskriftuurlike sieninge oor die aard en volgorde van eindtydse gebeure vrywaar. Die volgende waarhede oor die verskyning, optrede en verdelging van die Antichris blyk duidelik hieruit:

Die Antichris is ‘n eindtydse figuur

Sy bewind sal deur die openbare verskyning van Jesus Christus aan die einde van die groot verdrukking beëindig word (vgl. Op. 19:19-20). Historiese figure soos Nero was dus net voorlopers of tipes van die Antichris, as deel van sy verborge werking deur die eeue heen in voorbereiding op sy eindtydse openbaring as wêreldleier (1 Joh. 2:18).

Die wegraping vind voor die verskyning van die Antichris plaas

Die Antichris kan nie geopenbaar word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie. Moet dus nie die teorie aanvaar dat die wegraping in die middel van die verdrukking plaasvind nie. In die middel van die sewe jaar lange verdrukking verbreek die Antichris sy verbond met Israel, ontheilig die tempel en verklaar homself tot God (Dan. 9:27, 11:36-37; Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Direk hierna is dit nie die ontvlugting van die Christene nie, maar die vlug van Israel na die woestyn (Matt. 24:16; Op. 12:14). Ons moenie hierdie twee gebeurtenisse met mekaar verwar nie.

Dwalings en onskriftuurlike verwagtings lei na ‘n valse perspektief en verkeerde prioriteite. Deur die beskouing van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking word die Christus-verwagting van gelowiges deur ‘n Antichris-verwagting vervang. Hulle prioriteite kom dan onmiddellik as gevolg hiervan in die gedrang. In plaas daarvan om heiligmaking en diensbaarheid in afwagting op die spoedige koms van die hemelse Bruidegom na te streef, begin hulle nou planne te maak oor hoe om in die verdrukking te oorleef en uit die rampgebiede en strukture van die Antichris weg te bly. Sulke aksies is onvanpas omdat die perspektief en visie waaruit dit voortspruit, onbybels is.

Ons opdrag is om vir die Here Jesus te wag en met sy werke besig te bly totdat Hy kom. Indien ons dit doen, sal ons nie hier wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie. Mense wat dink dat hulle maar eers vir die Antichris kan wag en dan 3½ jaar aftel totdat die Here kom, kyk ‘n baie kardinale aspek van die profesieë mis, naamlik die verrassingselement in die hemelse Bruidegom se koms. Om gebeurlikheidsbeplanning te doen in plaas van voorbereidings om die rampgebied te ontvlug, kan tot ‘n groot ontnugtering lei.

Die Heilige Gees word nie weggeneem nie

Hy wat teëhou (2 Thess. 2:7) verwys na die ware kerk as die liggaam van Christus. Dit is waar dat dié mense almal ‘n tempel van die Gees van God is, maar die Heilige Gees verdwyn nie tydens die wegraping van die aarde af nie omdat Hy ‘n belangrike rol het om in die verdrukkingsperiode te vervul. Daar gaan trouens in hierdie tyd ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor die volk Israel plaasvind (Sag. 12:10). Pas ná die wegraping sal daar ‘n groot herlewing onder hulle wees waarin 144 000 Jode gered, verseël en as evangeliste uitgestuur sal word (Op. 7:1-8).

Daar word verder ook na ‘n groot menigte mense verwys wat in die verdrukkingstyd gered sal word (Op. 7:9-17). Geen siel kan sonder die bemiddeling van die Heilige Gees gered word nie omdat Hý mense wederbaar en bekragtig, en sodoende die genadewerk van Jesus Christus aan hulle bedien (1 Kor. 12:3).

Aktiewe teëhouers

Christene moet die verborge werkinge van ‘n antichristelike gees in die wêreld identifiseer en teëstaan, sodat die werk van God kan voortgaan en mense nie sonder waarskuwing in die mag van die dwaling beland nie. Op ‘n gegewe oomblik sal die Here ons wegneem, dan sal die uur van die duisternis aanbreek en die mens van sonde geopenbaar word.

Voorbereidings vir ‘n spoedige terugkeer

Ná die wegraping verskyn die gelowiges voor die regterstoel van Christus om genadeloon te ontvang (Rom. 14:10; 2 Kor. 5:10). Hulle sal in dié tyd ook saam met die Here Jesus die wêreld oordeel in die verdrukking (1 Kor. 6:2). Terwyl hulle as ouderlinge rondom die troon van die Lam is, koester hulle die vooruitsig om as oorwinnaars en konings terug te keer aarde toe:

"Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers" Op. 5:9-10

Die ouderlinge sien daarna uit om saam met Christus na die aarde terug te keer en aanskouers van die groot oorwinning oor die Antichris en sy magte te wees. Dan sal hulle saam met die Here Jesus in heerlikheid geopenbaar word:

"Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone... Sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs van die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer" Op. 19:11-15

Die plek van Christus se toetrede tot die wêreldtoneel, is Jerusalem:

"En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die Oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!... En die Here sal Koning wees oor die hele aarde" Sag. 14:4-5, 9

Die chronologie van Openbaring

Die wegname van die gemeente voor die aanbreek van die verdrukking blyk ook duidelik uit die chronologie van die openbaringsgebeure. Die verskillende gebeurtenisse, of tydperke, volg mekaar só in Openbaring op:

  • Die verheerliking van Christus ná sy hemelvaart (hfst. 1).
  • Die bedeling van die kerk op aarde (hfst. 2-3).
  • Die hemelse gesig, waarvan die verheerlikte kerk ná die wegraping ook deel is (hfst. 4-5).
  • Die sewe jaar van die verdrukking, wat deur die openbare verskyning van die Here Jesus beëindig word (hfst. 6-19).
  • Die duisendjarige vrederyk op aarde (hfst. 20:1-6).
  • Die eindoordeel voor die groot wit troon (hfst. 20:7-15).
  • Die nuwe hemel en die nuwe aarde (hfst. 21-22).

‘n Gesprek word deur die sewe briewe in Openbaring 2 en 3 met die kerk op aarde gevoer. Telkens word in die boodskappe gesê: "Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê" (Op. 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22).

In Openbaring 4 en 5 word die toneel skielik na die hemel verskuif. Die eerste vers in Openbaring 4 sê duidelik: "Ná hierdie dinge..." (Grieks metatauta). Dit dui op ‘n chronologiese opeenvolging van gebeure. Die hemelse gesig, waarin die Here deur 24 ouderlinge omring is wat volgens Openbaring 5:9-10 die verheerlikte kerk voorstel, volg dus die voorafgaande bedeling van die kerk op aarde. Dit is opvallend dat daar tussen hoofstuk 6 en die begin van hoofstuk 19 [die tyd van die sewe jaar lange verdrukking] nooit na die kerk, of gemeente, op aarde verwys word nie. Die ware kerk het geheimsinnig verdwyn, en net die valse kerk wat met die Antichris sal saamwerk, bly agter. Daar sal wél gedurende die verdrukking mense gered word, maar die bedeling van die kerk van Christus is dan verby. In Openbaring 13:9 staan daar: "As iemand ‘n oor het, laat hom hoor." Dit is nie toevallig dat die gemeente nie hier genoem word nie, want dié is weg.

Eers in Openbaring 19:7-14 lees ons weer van die bruidsgemeente wat aan die einde van die verdrukking saam met Christus na die aarde terugkeer. Hulle sal hier in sy oorwinning deel en saam met Hom as konings regeer.

Profetiese kalender

Die volgende belangrike gebeurtenis op die profetiese kalender is die wegraping. Voordat die Antichris geopenbaar word en die verdrukking kan begin, moet die Christene se ontmoeting met die hemelse Bruidegom eers plaasvind. Solank hulle hier is, is hulle in elk geval ‘n teëhouer vir die openbaring van die Antichris.

Ons opdrag is dus nie om vir die verskyning van die Antichris te wag nie, maar vir die skielike verskyning van Jesus Christus in ons midde. Die verrassingselement is in sý koms geleë, want Hy kom op ‘n uur dat niemand dit verwag nie. Eers nadat Hy gekom het, word die Antichris as valse vredevors geopenbaar. Dan sal die verdere verloop van eindgebeure binne ‘n vaste raamwerk van sewe jaar plaasvind - ‘n tydperk van valse vrede en wêreldeenheid vir 42 maande, gevolg deur ‘n militêre diktatuur gedurende die laaste 42 maande.

Volgens die tekens van die tye weet ons dat die wegraping baie naby is, voor die deur. Die presiese tyd ken ons egter nie.

Gereedmaking

Is jy ‘n geheiligde lid van die bruidsgemeente wat nie in bewuste sondes leef nie en vir die koms van die Bruidegom gereed is? Die grondslag van gereedmaking is om in Christus te wees, gelei deur sy Gees:

"Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees" Rom. 8:1

Dit word telkens sterk in verband met die wederkoms beklemtoon dat ons die Here Jesus as ons verlossing én heiligmaking moet aanneem. Ná die inisiële reiniging van sonde moet daar 'n besliste ondervinding van heiligmaking, of vervulling met die Heilige Gees, wees. Dit verleen aan ons geestelike oorwinningskrag en stel ons in staat om toegewyde, diensbare en rein lewens te lei:

"Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees" Ef. 5:25-27

Johannes beklemtoon die feit dat elkeen wat die hoop op die wederkoms het, ‘n motivering vir heiligmaking het, want hy "reinig homself soos wat [Christus] rein is" (1 Joh. 3:3). Die Christen streef dus daarna om soos Jesus te wees en nie van Hom af weg te dwaal en ‘n besoedelende, wêreldse lewe te lei nie:

"En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie" 1 Joh. 2:28

Die genade wat ons van die Here ontvang het, leer ons om in ‘n nuwe lewe op te gaan waarin die wêreld en sy begeerlikhede geen plek het nie:

"Die reddende genade van God... leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus" Titus 2:11-13

Die gemeente in Thessalonika het ‘n besondere sterk wederkomsverwagting gehad. Paulus moedig hierdie ingesteldheid aan en bid hulle toe:

"En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!" 1 Thess. 5:23

Petrus sluit by dié perspektief aan, en waarsku dat ons nie deur die verganklike dinge van die wêreld verblind moet word nie. Ons moet onsself eerder aan die saak van die koms van die Here se koninkryk toewy en dit verhaas:

"Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? - julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas... Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede" 2 Pet. 3:11-14

Ons moet waak om nie deur die wêreld beïnvloed en van ons geestelike standaard en betrokkenheid by die werk van die Here afgetrek te word nie. Een van die tekens van die tye is juis ‘n gees van afvalligheid en louheid wat onder gelowiges intree. In plaas daarvan dat Christene deur die toenemende ongeregtigheid tot meer heiligheid en groter toewyding aan die Here Jesus aangespoor word, maak baie van hulle kompromie met die bose wêreld en verloor daardeur hulle geestelike motivering. Sommige van hulle gooi selfs handdoek in, staak hulle werk vir die Here en gee die stryd teen wêreldsgesindheid gewonne:

"En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel" Matt. 24:12

Te midde van die ernstige vervalproses in die wêreld en in baie kerke, moet ons geneigdheid en inisiatief in presies die teenoorgestelde rigting wees:

"Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees" Op. 22:11-12

Die vereiste van geestelike waardigheid vir die wegraping word duidelik deur die Here Jesus self in sy profetiese rede gestel:

"Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" Luk. 21:36

Lei jy ‘n toegewyde lewe en is jy geestelik waardig om die skrikbewind van die Antichris te ontvlug? Indien nie, dan moet jy ernstig begin waak en bid. Die heel eerste gebed is die sondaarsgebed waarin jy jou sondes voor die Here moet bely sodat jy deur die bloed van die Lam gereinig kan word. Dit is egter net die beginpunt van jou geestelike lewe.

Daarna moet gebed en waaksaamheid teen die aanvalle en versoekings van Satan steeds van die belangrikste aktiwiteite in jou geestelike lewe bly. As jy ‘n verborge binnekamerlewe het, sal die Here jou in die openbaar vergeld deur jou daarbuite in ‘n goddelose wêreld staande te hou en in sy diens te gebruik (Matt. 6:6). ‘n Toegewyde gebedslewe is die geheim van ‘n oorwinnende lewe. Hiersonder is ons ‘n maklike prooi vir die vlees, die wêreld en die sonde:

"Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak" Matt. 26:41

Ons kry ‘n soortgelyke opdrag vir die wederkoms, sodat ons nie onder die versoeking moet swig om ons geestelike lewe af te skeep en die werk wat die Here aan ons toevertrou het, te verwaarloos nie:

"Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agtergelaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!" Mark. 13:33-37

Bly in Christus, bly in ‘n geestelike toestand van gereedheid, en bly met die dinge van die Here besig, terwyl jy vir die blink môrester uitkyk wat weldra bokant ‘n donker horison sal verskyn. In ‘n oogwink sal die stryd verby wees, ons sal al die sorge en swaarkry vergeet en in verwondering staan oor dit wat die Here vir ons berei het.

Ons heel grootste vreugde sal die aanskouing van die hemelse Bruidegom self wees, wat in heerlikheid in ons midde sal verskyn.

"Al u klere is mirre en alewee en kassie; uit ivoorpaleise maak snarespel U bly. Dogters van konings is onder u staatsdogters; die koningin staan aan u regterhand in goud van Ofir... Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei" Ps. 45:9-15

"Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges" Op. 19:7-8

Is jy seker dat jy ‘n geheiligde lid van die bruidsgemeente is en met vrymoedigheid voor die hemelse Bruidegom sal kan verskyn?

LAASTE DAE VAN DIE BEDELING VAN DIE KERK

In die laaste dae sal daar swaar tye kom en mense sal net ‘n gedaante van godsaligheid hê (2 Tim. 3:1, 5). Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel (Matt. 24:12). Sommige sal van die geloof afvallig word en verleidende geeste en leringe van duiwels aanhang (1 Tim. 4:1). Terwyl ons die einde van die kerkbedeling nader, word die ou orde uitgeskuif om vir die nuwe plek te maak:

Uitfasering van die ou orde

Opbouing na die nuwe wêreldorde

Kulturele, politieke en godsdiensgrense word oorbrug sodat die ou orde kan verdwyn.

'n Nuwe wêreldorde van internasionale eenheid kry sy beslag op verskillende terreine.

Christelike leerstellings en moraliteit word as uitgedien beskou en toenemend verwerp.

Multigodsdienstige waardes word in alle lande bevorder, ook in skoolleerplanne.

Morele verval, geweld en die afbreek van gesinswaardes kom in die samelewing voor.

Humanistiese vryhede word oral deur 'n nuwe handves vir menseregte verseker.

Misdaad en 'n abnormale lewenswyse word deur die verval van norms veroorsaak.

Misdaad word deur geweld bekamp en nie deur rehabilitasie of nuwe norms nie.

Die Christelike gelooof word uitgefaseer om vir okkultiese praktyke plek te maak.

Die Bybel word deur die nie-Christelike gelowe en deur toorkuns vervang.

Oordrewe demokratisering lei tot gesagloosheid en anargie in die samelewing.

Die nasies verloor hulle soewereiniteit en vryheid onder 'n wêreldregering.

Etniese, kulturele en geslagsidentiteit word nie meer nie meer formeel erken nie.

'n Eklektiese wêreldkultuur kry sy beslag vir die ontluikende wêreldburgers.

Israel word weens sy houding veroordeel en Jodehaat neem oral toe.

Die afdwing van die nuwe wêreldorde lei tot oorlog in die Midde-Ooste.

Wanneer die tyd vir die verskyning van die Antichris ryp is, sal die teëhouer (die kerk van Christus as die tempel van die Heilige Gees) weggeneem word. Die Antichris sal dan geopenbaar word en hy sal sy nuwe wêreldorde dadelik ten volle instel. Internasionale eenheid sal vir 3½ jaar lank gehandhaaf word, gevolg deur 'n militêre diktatuur vir nog 3½ jaar.

Wegraping

Sewe jaar lange afwesigheid van die bruidsgemeente van Christus ná die wegraping. Op aarde sal daar dan ‘n tyd van misleiding onder die bewind die Antichris en die valse profeet wees, wat gevolg sal word deur ‘n groot verdrukking soos daar nooit was nie.

Wederkoms

 

DIE VERDRUKKING VAN SEWE JAAR

Valse vrede en wêreldeenheid vir 3½ jaar

‘n Groot verdrukking vir 3½ jaar

Ná die wegraping word die Antichris geopenbaar, hy sluit politieke verbonde met baie nasies en begin met die eerste helfte van sy bewind as wêreldleier en wêreldmessias.

Die Antichris word in ‘n sluipmoordaanslag gedood, en word weer lewendig. Hy verander van gedaante en word die laaste 3½ jaar ‘n militêre tiran wat ‘n skrikbewind sal voer.

Die instelling van ‘n nuwe wêreldorde van politieke, godsdienstige en ekonomiese eenheid deur ‘n VN gebaseerde wêreldregering onder die beheer van die Antichris.

Ekonomiese beheer word internasionaal deur ‘n kontantlose ekonomie en ‘n 666-gebaseerde nommerstelsel afgedwing. Niemand kan sonder hierdie nommer koop of verkoop nie.

Babilon word in Irak herbou as ‘n simbool van wêreldeenheid én ook as ‘n strategiese, Midde-Oosterse hoofstad vir die Antichris se wêreldregering en wêreldgodsdiens.

‘n Babiloniese sonde-kultuur word tot uiterstes gevoer deur sy gewelddadigheid, korrupsie, homoseksualisme, dronkenskap, okkultisme, afgodediens en satanisme.

Die Joodse tempel word in Jerusalem langs die moskee gebou, en ‘n alliansie van wêreldgodsdienste erken die Antichris as hulle gemeenskaplike Messias.

Die tempel word deur die Antichris ontheilig wanneer hy homself in die Allerheiligste tot God verklaar. Hy eis almal se aanbidding op en beëindig die alliansie van godsdienste.

Die alliansie van wêreldgodsdienste word met mag beklee en voer ‘n internasionale veldtog teen Messiaanse Jode en Christene wat die Antichris nie wil aanvaar nie.

Die summiere teregstelling van almal wat sal weier om die Antichris te aanbid en ook sy nommerstelsel te aanvaar. Net die dier en Satan mag hierna aanbid en vereer word.

‘n Misleidende wêreldvrede berus op ‘n verbintenis tussen die valse wêreldgodsdienste en die Antichris. Onder sy leiding vestig hulle ‘n mistiese wêreldbroederskap.

Die multi-nasionale magte van die Antichris trek vir die slag van Armagéddon in die Midde-Ooste saam. Hulle wil Israel verdelg en ook teen die komende Messias van Israel veg.

Tekens van die tye

Hoewel daar beslis ‘n verrassingselement in die wegraping is, is daar aan ons verskeie tekens van die eindtyd gegee sodat ons ten minste sal weet wanneer die tyd van die Bruidegom se koms vir sy gemeente naby is:

"En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is" Luk. 21:28

In die skets op die vorige twee bladsye word twee reekse tekens genoem wat op die einde van hierdie bedeling dui. Die een reeks het op die verval en verdwyning van die bestaande orde betrekking, terwyl die ander reeks tekens op die opkoms van ‘n nuwe wêreldorde dui.

Die tekens van verval strek oor ‘n breë spektrum en sluit alle lewensterreine in. Ekonomiese verval, werkloosheid en hongersnood, gepaard met natuurrampe, sal voor die verdrukking reeds ernstige afmetings begin aanneem. In die meeste lande van die wêreld sal kos skaars en baie duur word.

Politieke onstabiliteit en druk deur die nuwe wêreldorde sal na die verwerping en val van regerings lei, en anargistiese toestande tot gevolg hê. Wanorde, gewelddadigheid, korrupsie, diefstal en ander wettelose dade sal hele gemeenskappe in chaos dompel.

Godsdienstige verval sal die grondoorsaak van verval op alle ander terreine wees. Die verwerping van God se gesag sal na normloosheid en immorele dade lei. Die gevolg sal ongekende permissiwiteit wees, waarin elkeen in die samelewing sal doen net wat hy wil.

Ontwrigte en bandelose samelewings verval maklik in burgeroorloë of oorloë teen buurstate. Groot ellende sal hieruit voortspruit, en in baie wêrelddele sal oorloë en gerugte van oorloë aan die orde van die dag wees.

Uit die puinhope van die ou orde sal die strukture van die nuwe wêreldorde verrys. ‘n Verwarde en gepolariseerde mensdom sal binne die raamwerk van die Nuwe Era Beweging stelselmatig tot ‘n nuwe eenheid saamgesnoer word waaruit ‘n valse vrede sal voortvloei.

Ekonomiese eenheid sal geskep word deur die vestiging van ‘n sentraal beheerde wêreldekonomie. Dit sal uiteindelik na die Antichris se ekonomiese diktatuur en die toekenning van nommers aan mense lei, maar dit sal eers in die tweede helfte van die verdrukking wees. Mense wie se saak met die Here reg is, hoef nie hiervoor te vrees nie.

Politieke eenheid in die gestalte van ‘n wêreldregering sal as die oplossing vir politieke krisisse en wetteloosheid voorgehou word. Wanneer die strukture vir ‘n wêreldregering gevestig is, sal die Antichris pas ná die wegraping geopenbaar word en beheer daaroor verkry.

Die opkoms van ‘n sterk Arabies/Islamitiese mag in die tradisioneel Siries-Babiloniese gebied (dit sluit die huidige Libanon, Sirië, Irak en Koeweit in) sal as ‘n magsbasis vir die openbaring van die Antichris opgebou word. Dit is die gebied van die koning van die Noorde, waaruit die Antichris volgens Daniël 11 sal kom. Huidige verwikkelinge in hierdie gebied, asook die wêreldwye opbou van ‘n Islamitiese mag, het ‘n besliste uitwerking om stukrag aan valse godsdienste te gee en die klimaat vir die Antichris se koms voor te berei.

Godsdienstige eenheid word ter wille van die bevordering van vrede, versoening en eenheid nagestreef. Omdat net die valse godsdienste onder een vaandel verenig kan word, sal die fundamentele Christendom toenemend in diskrediet kom en uiteindelik verbied word.

Sowel die eindtydse verval as die opbou na die nuwe wêreldorde plaas geweldige druk op die fundamentele, evangeliese Christendom, wat beide hierdie prosesse weerstaan en op Bybelse gronde afkeur. As teëhouers van die Antichris sal ons toewyding aan die Here in hierdie tyd aan strawwe toetse onderwerp word. Ons moet Hom nie deur kompromieë en afvalligheid verloën nie!

Terwyl geestelike duisternis rondom ons toesak, moet ons daardie innerlike vrede hê dat ons saak met die Here reg is. Dan sal moeilike uiterlike toestande nie saak maak nie, want niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie. Weldra sal ons die geklank van die basuin van God hoor, en die stem wat roep: "Kom op hierheen!"

Betekenis van die wegraping

Die belofte van die wegraping is uit verskillende oogpunte hoogs betekenisvol:

Goeie nuus in die profesieë

Die wegraping is die goeie nuus in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor rampe en oordele wat met die dag van die Here gepaard sal gaan. Indien die belofte van die wegraping verswyg word, sou Christene net donker vooruitsigte oor die Antichris en die sewe jaar lange verdrukking gehad het. Só ‘n situasie sou vergelyk kon word met die sondvloed sonder die ark, of die vernietiging van Sodom en Gomórra sonder ‘n ontsnappingsroete vir Lot en sy gesin. Mense wat die belofte van die wegraping verwerp, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het?: "God is ‘n liefdevolle God en ek kan nie glo dat Hy die mensdom deur ‘n watervloed sal ombring nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie." Of wat sou van Lot en sy gesin geword as hy gesê het: "Ek dink dat die oordele oor Sodom en Gomorra simbolies opgeneem moet word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As die oordele wél kom, dan moet die Here ons maar te midde daarvan bewaar."

‘n Situasie van hierdie aard sou nie alleen hoogs demoraliserend wees nie, maar ook in stryd met die duidelike Bybelse beginsel dat gelowiges nooit die voorwerpe van God se toorn is nie: "Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie" (Rom. 8:1). Die wegraping is deel van die goeie nuus van die evangelie van Jesus Christus. Hy het na die sonde-deurdrenkte wêreld gekom om die volle prys vir die redding van sondaars te betaal. Daarna is Hy terug hemel toe om ‘n plek vir ons te gaan berei. Hy het beloof om weer terug te kom en ons te kom haal en na ons hemelse tuiste te neem. As ons in Hom bly, sal ons waardig wees om die gruwels van die komende verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug. Ons hoef dus nie tot wanhoop gedryf te word deur die kennis van dit wat oor die wêreld gaan kom nie. Vir die ware gelowiges is daar ‘n wonderlike boodskap van goeie nuus in die profesieë!

Diegene wat nie hierdie goeie nuus ter harte neem en vir die wegraping gereed maak nie, sal alles verloor en vreesbevange in die groot verdrukking na die berge en rotse uitroep: "Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:16-17). Hulle sal tevergeefs vir die toorn van God probeer wegvlug as hulle weier om tot bekering te kom.

‘n Korrekte toekomsverwagting

Die geloof in ‘n voor-verdrukking-wegraping gee aan jou die versekering dat jy ‘n korrekte, Bybelse toekomsverwagting het. Dit word deur geen ander Bybelse waarhede weerlê nie. Hierdie ingesteldheid eer die Here Jesus en erken Hom as die sleutelpersoon in die profesieë, "want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie" (Op. 19:10). Christene se aandag moet op Hom gevestig bly. Hulle moet sý skielike verskyning verwag, en nie dié van die Antichris nie. Diegene wat Hom verloën, sal almal met die wegraping agterbly. Die enigste rede waarom hulle aan die diktatuur van die Antichris oorgelewer sal word, sal wees omdat hulle die verlossing wat die ware Christus aan hulle gebied het, geminag en verwerp het. Wat hulle op aarde sal beleef, sal die direkte gevolg wees van die seëls van God se oordele wat die Lam in die hemel sal breek. Moet dus nooit Jesus Christus se sentrale plek in die Bybelse profesieë misken nie. Om sy spoedige koms te verwag en jou lewe dienooreenkomstig in te rig, is ‘n opdrag wat bedoel is om ‘n positiewe motivering aan Christene van alle eeue te verleen.

Die regte bepaling van werke

Die verwagting van die koms van die Here Jesus voor die verdrukking, rig jou werke en optrede in die regte rigting. Jy berei vir sý koms voor, en nie vir dié van die Antichris nie. Die konsep van die wegraping konfronteer jou uitdruklik met die verantwoordelikheid om direk ná die wegvoering rekenskap van jouself voor die regterstoel van Christus in die hemel te gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Indien jy die moontlikheid van Christus se spoedige koms uit die gesig verloor en nie meer daarvolgens leef nie, kan jy in oorgerustheid, geestelike passiwiteit en selfs in sonde verval (Matt. 24:48-51).

Beveiliging teen materialisme

Die feit dat ons werke ná die wegraping beoordeel gaan word, en net dít met ewigheidswaarde beloon sal word, is ‘n belangrike feit om in gedagte te hou. Dit help ons om doelstellings na te streef wat hoër as die materialistiese en verganklike dinge van hierdie wêreld is. Paulus sê dat nadat die fondament van bekering in ons lewens gelê is, ons die vrug van die Heilige Gees moet dra en nie nuttelose, materialistiese werke moet doen nie (1 Kor. 3:10-15). Ons moet dus oppas dat ons nie met leë hande voor die Here verskyn nie.

Christene wat aan ‘n voor-verdrukking-wegraping glo, hou hulleself nie met oorlewingstrategieë besig in voorbereiding op die verdrukking onder die bewind van die Antichris nie. Hulle hou hulleself met die Groot Opdrag besig, soos wat die Here Jesus self gedoen het: "Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie" (Joh. 9:4). Genadetyd gaan verby en ons moet nou alles in die stryd werp.

 ‘n Motivering vir heiligheid

Een van die sterkste motiverings wat die belofte van die wegraping in ‘n Christen se lewe vestig is dié van heiligmaking. As lede van die bruidsgemeente moet ons onsself toewy aan die uitdaging om as rein maagde aan die hemelse Bruidegom voorgestel te word (2 Kor. 11:2-3). Dit plaas ‘n duidelike verantwoordelikheid van waaksaamheid op ons sodat die Bose nie toegelaat sal word om ons gedagtes en lewens te besoedel nie. Ons verkry nie die standaard van heiligmaking deur menslike pogings nie, want Christus is ons heiligmaking: "Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig... sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees: (Ef. 5:25-27). Ons moet onsself heelhartig hieraan oorgee en die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1). Die Here Jesus het dit alles vir ons aan die kruis en deur die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak, maar ons moet dit aanvaar, daarin wandel, ons in die godsaligheid oefen, ten bloede toe teen die sonde weerstand bied en met volharding die wedloop loop wat voor ons is, die oog gevestig op Jesus wat die Leidsman en voleinder van ons geloof is. Dan sal ons nooit veragter in die genade, ons visie en roeping verloor en van die weë van die Here afvallig raak nie.

Hoop in toetse en beproewings

In die skadu's van toetse, beproewings en vervolging, wanneer die hoop op ‘n gelukkige aardse lewe vervaag, is die vooruitsig op die wegraping altyd ‘n lig aan die einde van ‘n donker tonnel. Deur ontelbare sorge en lyding het miljoene mense in die geloof aan die belofte van die wegraping en ons vereniging met die Here vasgehou. Dit het aan hulle krag gegee om te volhard terwyl hulle die dinge van hierdie wêreld, en selfs hulle eie lewe, as niks beskou het om Christus en die ewige lewe as wins te verkry. Skep dus moed, rig jou neergeboë gees op, verwag die Here en weet dat jou toekoms in veilige hande is. Hy sal ons kom haal om sy ewige heerlikheid te beërf. Dáár "sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan" (Op. 21:4).

 ‘n Bestemmingsbewustheid

Soos Abraham en ander geloofshelde moet ons onsself as vreemdelinge en bywoners in hierdie donker wêreld beskou wat in die mag van die Bose lê. Ons toekoms is nie hier nie, daarom moet ons altyd ‘n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10). In ons pelgrimsreis deur die wêreld moet ons altyd ‘n sterk bestemmingsbewustheid hê omdat ons na die nuwe Jerusalem op pad is. Wanneer die Here met die wegraping uit die hemel neerdaal, sal ons Hom tegemoet gaan in die lug en na ons ewige tuiste in die Godstad weggevoer word.

Ons moet waak daarteen om oormatiglik met hierdie wêreldstelsel te identifiseer en in sy materialisme en geestelike verdorwenheid een daarmee te word. Dit beteken nie dat ons swak gemotiveerde mense sonder doelstellings is terwyl ons hier is nie. Inteendeel - ons moet produktiewe lewens lei en die Here verheerlik in alles wat ons doen. Die wêreld moet ons as hardwerkende mense met integriteit ken, daarom moet ons ‘n verskil ten goede in ons omgewing maak. Ons hoofdoel bly egter om die lof te verkondig van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig. Die meeste mense wandel weens hulle vormgodsdiens steeds in geestelike duisternis, daarom moet ons toesien dat ons altyd deur ons getuienis vir hulle die lig van ‘n donker wêreld is.

Terwyl ons ons plig as getuies van Christus uitvoer, moet ons voortdurend die blink môrester verwag wat nét voor die einde van die nag bokant die donker horison van ‘n troebel en onrus-geteisterde wêreld sal verskyn. Die boodskap van die môrester is dat die nag ver gevorder het en dat dit amper dag is. Voordat die Here Jesus met sy sigbare wederkoms as die Son van Geregtigheid sal kom wanneer elke oog Hom sal sien, sal Hy onopsigtelik as die Blink Môrester kom om sy bruidsgemeente in die lug te ontmoet.

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.