Verassing/Lyksverbranding/Kremasie

VERASSING / LYKSVERBRANDING / KREMASIE

Teksvers:

1 Korintiërs 15:35-38 35“ Maar iemand sal sê: Hoe word die dode opgewek, en met hoedanige liggaam kom hulle? 36  Dwase mens! Wat jy saai, word nie lewendig as dit nie gesterf het nie. 37  En wat jy saai—jy saai nie die liggaam wat sal word nie, maar ‘n blote korrel, byvoorbeeld van koring of van iets anders. 38  Maar God gee dit ‘n liggaam soos Hy gewil het, en aan elkeen van die saadkorrels sy eie liggaam.”

Wag daar ’n ontnugtering na verassing?

Verassing is van heidense oorsprong en in stryd met die eeue-oue gebruik van begrafnis soos dit voorkom in die Ou en Nuwe Testament. Verder kan die Christelike gemeente hom nie met lykverbranding verenig nie, want met die skyn argument dat dit om gesondheidsredes gedoen word, skuil agter lykverbranding 'n materialistiese wêreldbeskouing. Vir die Christen met sy geloof aan die wederopstanding het die begrafnis die simboliese betekenis dat die liggaam aan die aarde toevertrou word as 'n graankorrel wat eers moet sterf om later heerliker te voorskyn te kom (Joh. 12:24; 1 Kor. 15:36-44).

As dit jou standpunt is dat die verbranding van die liggaam alles tot ’n einde bring - dat dit dan verby is met die liggaam en dat só ’n liggaam nooit weer uit die dood opgewek kan word nie - ja, dan wag daar vir jou ’n verrassing na verassing. Want, die verbranding van ’n liggaam kan nie die opwekking van daardie liggaam uit die dood verhinder nie.

Wanneer mense opgewek moet word na die dood tot rekenskap sal God, deur Sy mag, en op Sy bevel, ALLE liggame wat ooit bestaan het uit die dood opwek. Of jy nou gelowige of ongelowige was, voor of na Christus gelewe het, begrawe of nie begrawe is nie, veras is of nie veras is nie, jou liggaam sal uit die dood opgewek word. Selfs die see, lees ons in Openbaring 20, sal sy dooies teruggee.

Dit beteken dat mense wat oor die eeue in die see verdrink het, en wie se liggame nooit gevind is nie; liggame wat met die verloop van tyd só in die see verweer het dat hulle deel geword het van die groot oseaan, uit die dood sal opstaan. Elke atoom, elke molekuul elke deeltjie van hulle liggaam sal weer in beweging kom, en die see sal sy dooie teruggee. En dieselfde gebeur ook met almal wat op land gesterf het. Sal Hy, die Maker van alle mense, dan nie weet wat van Sy maaksel geword het nie?

Ja, daar wag dus ’n verrassing vir elkeen wat dink dat verassing die einde van die liggaam beteken. En, die oorsprong van die praktyk van verassing in Suid-Afrika lê juis in hierdie ideaal - die mens wou ’n einde maak aan die liggaam.

Die menslike liggaam is 'n tempel van God (1 Kor 3:16-17; 1 Kor 6:15-20; 1 Kor 15; Rom 8:9; 12:1-2; 14:8; 2 Tim 1:14; 2 Kor 5:1-4) en daar mag nie eers tatoeëermerke daarop aangebring word nie (Lev 19:28: "Julle mag ook ter wille van 'n dooie geen snye in julle vlees maak nie en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die HERE."  Die HERE stel die beginsel van begrawe duidelik in Genesis 15:15: "Maar jy sal na jou vaders gaan in vrede, jy sal in goeie ouderdom begrawe word." Die liggaam van God se kind behoort nie aan homself of sy familie nie, maar aan Jesus Christus. Ons behoort dus met liggaam en siel, of ons lewe of sterwe, nie aan onsself nie, maar aan Jesus (Rom 14:7-9; Gal 2:20). Jy mag dus nie met jou liggaam of die van jou naasbestaandes maak wat jy wil nie.

Mense wat getrou was in die HERE en in hulle geloof, sal begrawe word. Abraham, Isak en Jakob is begrawe (Gen 25:9-10; 35:29 en 47:29). Abraham doen baie moeite om vir sy vrou Sarah `n grot te koop om haar in te begrawe (Gen. 23:3-20). Moses het Josef se beendere saam geneem toe die Israeliete uit Egipte getrek het, en dit is later begrawe (Jos 24:32).  Ons lees 1 Kon 14:13: "En die hele Israel sal hom beklaag en hom (Abia) begrawe, want hy alleen van Jerobeam sal in 'n graf kom, omdat in hom iets goeds voor die HERE, die God van Israel, te vinde was in die huis van Jerobeam." God het Moses self begrawe (Deut 34:5, 6). In Handelinge 2:29 lees ons die volgende: "Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe." In Johannes 19:40 lees ons dat om te begrawe die gewoonte was. "En hulle het die liggaam van Jesus geneem en dit in doeke toegedraai saam met speserye, soos die gewoonte was om te begrawe."

God se kinders word dus begrawe en hulle begrawe ook hulle geliefdes soos God in sy Woord voorskryf (Mat 27:58-60; Joh 5:28-29; 12:24,25; 1 Kon 2:10; Hand 2:29; Hand 13:36; Gen 15:13,15; 23:2,4-9; 49:29-31; Deut 34:5,6; Gen 47:29, 30).

Dit was ook 'n afskuwelikheid om nie begrawe te word nie: "Die een wat van Jerobeam in die stad sterwe sal die honde eet, en wat in die veld sterwe sal die voëls van die hemel eet" (1 Kon 16:4). Hoor net die geweldige woord in Prediker 6:3: "As 'n man honderd kinders verwek en baie jare lewe en die dae van sy jare baie is en sy siel nie genoeg kry van die goeie en hy ook nie 'n begrafnis het nie, dan sê ek: 'n MISGEBOORTE is beter as hy."

Paulus sê dat ons begrafnis in Christus volledig is: "Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in 'n nuwe lewe kan wandel." (Rom 6:4)

Lykverbranding is ook 'n skending van die verbond van die HERE: "En hy wat in die besit van die bangoed aangewys is, moet met vuur verbrand word, hy met alles wat aan hom behoort, omdat hy die verbond van die HERE oortree en 'n skanddaad in Israel begaan het" (Jos 7:15). Waar mense met die banvloek getref is, is hulle lyke verbrand (Ex 22:20).  

Die oorsprong van die praktyk van lykverbranding

In 1918 is, onder aandrang van die Hindoe-gemeenskap, die eerste krematorium in Johannesburg opgerig. Die Hindoe-geloof gaan uit van die gedagte dat die mens wel deel is van die natuur, maar dat elke mens daarna moet streef om deur kennis en verligting los te kom van die natuur en een te word met die absolute godheid. In die mate wat ’n mens nie daarin slaag om een te word met die absolute godheid nie, word hy elke keer weer gereïnkarneer, kom hy of sy elke keer weer terug aarde toe om met ’n ander liggaam voort te lewe.

As jy sleg geleef het as ’n man, sê hulle, kan jy terugkom as ’n vrou. En as jy sleg geleef het as ’n vrou, kan jy terugkom as ’n dier; ’n hond of ’n bok of selfs as ’n insek. Daarom eet die Hindoes ook glad nie vleis nie en maak hulle nie sommer insekte dood nie, want dit mag wees dat jy dan van jou voorgeslagte uitroei wat nie so goed geleef het nie en wat gereïnkarneer is. (’n Mens ken mos maar jou familie al te goed.)

In die Westerse wêreld het mense die afgelope eeu of wat al meer aanklank gevind by die idee van reïnkarnasie en vind sommige mense dit ’n wonderlik tydverdryf om daaroor te fantaseer of hulle in hulle vorige lewe ’n prins of ’n koningin of ’n Springbok of ’n hond was, en troos sommige mense hulleself selfs met die dwaling dat hulle na hulle dood weer sal terugkom om die lewe as iemand anders voort te sit.

Maar, vir die Oosterling, besonders die Hindoe is so ’n “terugkoms” glad nie wenslik nie. Vir hulle is reïnkarnasie die straf op ’n mislukte lewe en hulle sal alles doen om dit te verhoed - selfs hulle liggame laat verbrand. Verassing is vir hulle bevryding en deel van die proses om een te word met die absolute godheid. Die oorsprong van verassing in Suid-Afrika lê dus in ’n Oosterse godsdiens wat ’n einde wil maak aan die aardse liggaam.

Die redes wat mense aanvoer vir lykverbranding

Nou sê die meeste mense wat hulle wil laat veras: “Ek glo niks wat die Hindoes glo nie”. “Ek wil my laat veras om ander redes”. En dan word daar gewoonlik een van vier redes gegee:

  • Persoonlike redes,
  • ekonomiese redes,
  • praktiese redes
  • of gesondheidsredes

Die mense wat persoonlike redes aanvoer sê: “Ag die vuur versnel maar net die ontbindingsproses.” “Ek was my lewe lank ’n netjiese mens en om ’n liggaam te verbrand is nou wel nie mooi nie, maar dis vinnig en gou en klaar en netjies”. Ander weer, is bang hulle word in die graf wakker en wil daarom veras word (asof dit beter is om in ’n vuur wakker te word).

Nog ander beweer dat dit goedkoper is om jou te laat veras. En tog  is die pryse om veras te word of begrawe te word maar baie dieselfde. In groot stede oorsee, waar die krematorium naby is en grond vir begraafplase skaars en duur is, kan ’n verassing egter inderdaad die goedkoper opsie wees.

En dan is daar ook nog altyd diegene wat graag in die wildtuin begrawe wil word of ter see of op die familieplaas (wat ondertussen in iemand anders se hande gekom het) en wat dan maar op praktiese redes laat veras omdat gewone teraardebestelling nie moontlik is nie.

In sommige gevalle kan verassing selfs om gesondheidsredes noodsaaklik wees. Na groot oorloë en rampe, wanneer daar eenvoudig nie tyd is om al die liggame van die slagoffers te begrawe nie, en die gevaar van siektes en epidemies dreig kan verassing ook noodsaaklik wees. In só ’n noodtoestand kan ’n mens inderdaad sê: “Verbrand die dooies ter wille van die lewendes”.

Daar mag ook ander redes wees waarom verassing wenslik is. In 1 Samuel 31 lees ons byvoorbeeld hoe die liggame van Saul en sy seuns deur die inwoners van Jabes verbrand is om verdere spot en lykskending en vernedering deur die vyand te voorkom. Nie alle verassings is dus uit ongeloof of bygeloof of verkeerde geloof nie.

Dit gesê, wil ek tog in die lig van die Skrif pleit, dat gelowiges, onder normale omstandighede, veel eerder ’n Christelike begrafnis kies.

Ons liggame behoort nie aan onsself nie

My vertrekpunt in hierdie oortuiging is die feit dat gelowiges se liggame nie aan hulleself behoort nie. Daar is baie redes wat mense aanvoer waarom hulle na hulle dood eerder veras wil word en, van hierdie redes kan goeie redes wees - maar uiteindelik bly dit nog: “Ek het besluit”. “Ek het besluit wat na my dood met my liggaam gaan gebeur”. Terwyl my liggaam en siel, in lewe en in sterwe, nie aan myself behoort nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus.

My liggaam behoort dus nie aan myself nie. Dis die gelowige se vertrekpunt. My liggaam is gekoop. Dit is met die bloed van Jesus Christus gekoop en behoort nou aan Hom. My liggaam behoort aan Hom in lewe, én in sterwe.

Die besluit wat ek dus neem oor wat na my dood met my liggaam moet gebeur, is ’n besluit wat ek oor iemand anders se eiendom neem! Dink u nie ook dis reg dat ’n mens eers die Eienaar moet vra, voor jy ’n besluit neem oor wat jy met Sy eiendom gaan doen nie? Jy breek tog nie sommer ’n huurhuis se binnemuur uit sonder om die eienaar te nader nie.

Eintlik behoort ons veel meer bedag te wees op die feit dat Jesus Christus Here (Eienaar) van ons liggame is - ook terwyl ons lewe. Party mense besluit byvoorbeeld dis te ongemaklik of te veel moeite om ’n veiligheidsgordel aan te sit as jy in ’n motor ry of ’n valhelm terwyl jy motorfiets ry, en ry daarby veel vinniger as wat die spoedgrens toelaat, maar wat sê die Here, die Eienaar van jou liggaam daarvan?

En nog ander besoedel sommer hulle liggame met tatoeëermerke, ’n oorvloed kos en drank en soetgoed en nikotien. Hulle oefen nooit en doen niks vir hulle gesondheid nie. “Dis tog my liggaam”, sê hulle. “Ek kan leef soos ek wil”. Maar, as jy bely dat Jesus Christus Eienaar van jou liggaam is, kan ’n mens dan nog met ’n skoon gewete só ’n standpunt en leefstyl handhaaf?

Ons vertrekpunt as gelowiges is dus dat die Here eienaar van ons liggaam is.

Daarom het Hy sê oor my liggaam; ook sê oor wat ná my dood met my liggaam moet gebeur.

So, sê Jesus dan ooit iets oor verassing? Is daar iewers in die Bybel ’n wet teen verassing, ’n wet soos: Jy mag nie steel nie; Jy mag nie egbreuk pleeg nie, Jy mag nie veras nie? Staan dit iewers in die Bybel?

Nee, maar……

Gewoonlik as ons as Boere Afrikaners vir mekaar iets wil se of skryf verduidelik ons nie eers ons kultuur  aan mekaar nie, want ons leef in dieselfde kultuur.

Dieselfde is ook waar in die Joodse kultuur waarin die Bybel geskryf is.

In die geval van lyk verbranding is dit dan ook wel die geval.

Dit is `n algemeen aanvaarde norm dat geen Jood veras mag word nie, behalwe as hul vervloek is of `n sonde gepleeg het wat hul uitsluit van die normale Joodse gang van sake.

Dit word dus algemeen aanvaar dat almal dit behoort te weet binne die Joodse kultuur.

As ons dan nie `n spesifieke uitklaring vanuit die Bybel kry nie, Help dit in meeste gevalle om die antwoord binne die kultuur van die Jode te gaan soek, wat in hierdie geval dan wel ook so is.

Ons het dus meer as ’n wet of ’n versie. Ons, Christene, het ’n verhouding met ’n lewende Persoon. Ons leef in verhouding met Jesus Christus self! Ons is één met Jesus Christus. Dit beteken: Ons is een met Hom as Hy aan die kruis vir ons sondes sterwe (Rom 6:6); Ons is een met Hom as Hy uit die dood opstaan; Ons is een met Hom as Hy opvaar na die hemel en sit aan die regterhand van God (Ef 2:5-6). Dis die wese van ons verhouding met Jesus Christus - Ons is een met Hom!.

En weet u, broer en suster, dit geld ook so van Sy begrafnis. Ons is ook een met Jesus in Sy begrafnis. Ons is saam met Hom begrawe sodat ons saam met Hom die oorwinning oor die dood behaal en ‘n nuwe lewe mag hê. Die apostel Paulus sê in Romeine 6:4 en Kolossense 2:12 dat die doop juis hiervan ’n teken is. As ons iets wil verstaan van wat die Eienaar van ons liggame se wens is oor wat na ons dood met ons liggame moet gebeur, dan moet ons ook gaan kyk na wat met Sý liggaam na Sy dood gebeur het.

In ons Skrifgedeelte het ons gelees wat met Jesus se begrafnis gebeur het.

Op die oog af is daar niks ongewoon by sy begrafnis nie. Johannes sê dan ook dat hulle met Jesus se liggaam gemaak het “soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir die begrafnis uit te lê”. Dit lyk alles so gewoon normaal.

En tog is daar ook ’n ander perspektief. Die insig dat God die Vader hier Sy Seun begrawe. Na Sy lyding en Godverlatenheid, was Sy verhouding met die Vader herstel. Dit het weer lig geword daar op Golgota. Jesus het alles volbring. En daarom, as Hy sterf, sê Jesus ook: “Vader, in U hande gee ek my gees”. As die Vader Sy Seun se gees ontvang, dan kan ons ook aanneem dat Hy groot sorg sal uitoefen in dit wat met Sy Seun se liggaam gebeur nie.

Vier merkwaardighede by Jesus se begrafnis

Wie só na ons Skrifgedeelte kyk, sien vier opmerklike dinge raak wat met Jesus se begrafnis gebeur het. Vier dinge waarin die hand van God die Vader gesien kan word:

  • Eerstens is dit belangrik om te weet dat gekruisigdes gewoonlik nie gou begrawe is nie. Die liggame van gekruisigdes is vir lang periodes aan die kruis gelaat as waarskuwing en afskrikmiddel vir die res van die bevolking. Daarom is daar ook dikwels langs die hoofpaaie gekruisig, en is ’n bordjie met inligting oor die oortreding wat die gekruisigde begaan het, aan die kruis geheg.

Maar, Jesus kry wel ’n spoedige begrafnis. Pilatus, (wat ook in die geskiedenisboeke bekend staan as ’n harde persoon) het kort tevore die Skrifgeleerdes se versoek om die bordjie met Jesus se oortreding te wysig, van die hand gewys. “Wat ek geskryf het, het ek geskryf”, het hy gesê. Wat verhinder hom om die versoek dat Jesus begrawe mag word, ook van die hand te wys? Hy kon net so goed gesê het: “Wat ek gekruisig het, het ek gekruisig”. Maar, God, wat almagtig is en wat die Faroa se hart verhard het, is ook almagtig om Pilatus se hart te kan versag. God sorg dat Pilatus toestemming gee dat Jesus se liggaam begrawe mag word.

  • Tweedens is dit opmerklik dat Jesus se begrafnis gereël word deur twee lede van die Joodse parlement (Joodse Raad): Josef van Arimathéa en Nikodémus. Al twee was vroeër in die geheim dissipels van Jesus. Openlike assosiasie met Jesus kon hulle politieke loopbane in gedrang bring. ’n Mens sou dink dat na Jesus se teregstelling as misdadiger aan die kruis, hulle nóg minder as sy dissipels geken sou wou word, maar, merkwaardig, juis nou tree hulle op die voorgrond en neem openlik die leiding met sy begrafnis. Ook hier in sien ons die werk van God die Vader in mense se harte. Die begrafnis van Sy Seun word deur politieke leiers van Israel behartig.
  • Derdens moet ons opmerk dat Jesus se begrafnis ’n duur begrafnis was. Navorsers wat die destydse koste van die 50 liter mirre en aalwyn en die doeke bereken het, het beraam dat Jesus se begrafnis ongeveer die jaarlikse salaris van ’n gewone dagloner gekos het.
  • En vierdens is dit opvallend dat Jesus in ’n nuwe graf begrawe word. In daardie dae is ’n mens nie sommer in jou eie graf begrawe nie. Die meeste mense is in familiegrafte begrawe, wat soos grotte of grafkelders uitgegrawe was. In so ’n grafkelder was daar plek om ’n liggaam neer te lê, maar wanneer die liggaam ontbind en verweer het, is die beendere agter in die grot of grafkelder geplaas. (Dis waar die uitdrukking vandaan kom wat ons soms in die OT teëkom: “Hy is by sy vaders” of “sy volksgenote versamel”.) minder gegoede mense het `n jaar na die begrafnis die beendere versamel en in n` uitgekapte klip houer geplaas, verseël en `n inskripsie daarop gemaak met die persoonlike inligting daarop (ossuary).

 God die Vader beskik dit egter so dat Sy eie Seun, Jesus ’n eie, “nuwe” graf kry, iets wat net vir baie vername mense of konings bestem was.

Hierdie vier merkwaardige en opvallende dinge wat ons Skrifgedeelte oor Jesus se begrafnis noem, dra almal dieselfde boodskap: God die Vader sorg dat Sy Seun ’n KONINKLIKE begrafnis kry.

Die betekenis van hierdie stelling word eers verstaan as ons die hele pad van Jesus se lyding en verheerliking oorweeg.

Die Seun se vernedering en verhoging

Dit was God se wil dat sy eie Seun in ons plek verneder moes word. Jesus lê Sy hemelse majesteit af en Hy word gebore as ’n baba. As mens het Hy Hom verder verneder deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en Hy was selfs bereid om in ons plek as misdadiger gereken en behandel te word. Hy het homself nog verder verneder tot in die pyn en smart van die doderyk - dit terwyl Hy self onskuldig was en sonder sonde.

Maar, as Hy dan aan die vloekhout uitroep: “Dit is volbring!”, dan het Sy vernedering ’n einde bereik. Geen verdere vernedering is nodig nie, die volle straf van God oor alle sondes ooit, is gedra. Dit word weer lig op Golgota, die verhouding met die Vader word herstel. Daarom kan Jesus uitroep: “Vader, in U hande gee Ek my gees!”.

Waarop kom dit neer? Alles kom daarop neer dat Jesus se begrafnis nie ’n verdere vernedering is nie. God die Vader beskik dat sy Seun ’n koninklike begrafnis kry. Hy doen dit, want Jesus se begrafnis is die eerste tree van sy verhoging! En van die begrafnis af, sou die verhoging voortduur. Uit daardie graf sou Hy na drie dae met koninklike heerlikheid opstaan. En daarna sou Hy opvaar na die hemel om aan die regterhand van God op sy troon te gaan sit, waar Hy nou nog is, en waar Hy in majesteit regeer oor alles wat in die hemel en op die aarde is!

Die navolging van Christus

En nou kom ek weer terug na ’n vorige punt: Ons is as gelowiges één met Jesus Christus. “Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie”, sê Paulus is Romeine 14. “As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterf, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here.”

Ons is één met Christus. Een met Hom in sy kruisdood, een met Hom in sy begrafnis, En met Hom in Sy opstanding. Wanneer ons dus iemand begrawe wat as ’n Christen gesterf het, dan pas dit ons om die begrafnis nie as ’n verdere vernedering te sien nie. Die Christen se hele lewe op aarde, is ’n vernedering, ’n woestyn reis.

Elkeen van ons het ons eie lyding in die lewe, sy eie kruis om te dra.

Maar wanneer die oomblik dan kom dat ons al die take wat God vir ons op aarde bestem het, volbring het; wanneer ons hemelse woning gereed is, en die aardse swaarkry en die stryd teen die sonde vir altyd verby is, dan is daar ook vir ons, wat één is met die Here Jesus, geen verdere vernedering meer nie. Deur wat Jesus gedoen het, is ook ons begrafnis ’n koninklike begrafnis.

Ja, ook ons begrafnis is vir ons liggaam die eerste tree van verhoging.

Daarom, as ek en jy nou in hierdie lig ’n besluit moet neem oor wat gebeur met ons liggaam na die dood, dan dui Jesus se begrafnis vir ons die koers aan. Wat na Sy dood met Jesus se liggaam gebeur, pas nie by sy kruisdood nie, en is geen verdere vernedering nie. Sy koninklike begrafnis pas wel by Sy opstanding in heerlikheid! Met hierdie uitsig moet ons begrawe!

Ons begrawe nie met die uitsig op die ontbinding van die liggaam as verdere vernedering nie. As dit ons enigste uitsig is, dan kan ons maar net so wel ons liggaam laat veras. Nee, ons begrawe met die uitsig daarop dat ook ons eie liggaam in heerlikheid sal opstaan. Dis soos Paulus in 2 Korintiërs 4:14 sê: “Ons weet immers dat God, wat die Here Jesus Christus uit die dood opgewek het, ons ook saam met Jesus uit die dood sal opwek.” En in 1 Korintiërs 15:42-43 sê Hy oor hierdie opwekking: “So is dit ook met die opstanding van die dooies: wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word is swak en word in krag opgewek”. Die hele gedagte van begrafnis, die liefdevolle en sorgsame wegbêre van ons liggaam, vind plaas met die oog op hierdie opwekking in heerlikheid wat God belowe en waarin Jesus ons voor gegaan het.

’n Begrafnis is ’n geloofsdaad wat rekening hou met die toekomstige gestalte van die liggaam

Dit is alles inderdaad ’n geloofsdaad. Wanneer ons ’n gelowige begrawe, is daar binne-in die kis sekerlik nog niks van die verhoging sigbaar nie. By ’n begrafnis is alles nog verganklik en gering en swak. Ja, hoe swak en verganklik voel ’n mens as jy jou geliefde begrawe! Maar, juis in ons swakheid gryp ons God se beloftes vas! Daarom het ons gelowige toekomsverwagting alles te sê oor wat ons in die hede met die liggaam van ons afgestorwe geliefde gebeur.

Dis soos 1 Korintiërs 15:37 sê, dat as jy saad saai, jy dit nie in die toekomstige gestalte daarvan saai nie. ’n Boer saai mieliepitte, nie mielieplante nie. Maar, omdat die boer die vertroue het dat die mieliepitte wel mielieplante gaan word, saai hy nie al die mieliepitte teen mekaar nie. Hy saai hulle 183 tot 300 cm van mekaar af. Die pitte het nie daardie ruimte nodig nie, maar die plante wel!

Die boer, in sy eenvoud, hou rekening met die toekomstige gestalte van die saad wat hy saai. God, in Sy alwysheid, doen dieselfde as Hy Sy eie Seun begrawe. Hy hou rekening met die Seun se toekomstige gestalte – Sý opstanding in heerlikheid! Daarom kry Jesus ’n koninklike begrafnis. Nie omdat sy koningskap in daardie oomblik al sigbaar is nie. Tussen al die doeke en speserye is Jesus se liggaam op daardie oomblik nog ewe dood. Maar die heerlikheid wat kom, bepaal dat Hy koninklik begrawe moet word.

Hoe weet die boer dat die mieliepitte wat hy plant, inderdaad plante gaan word? Hy glo dit eenvoudig. Ja, hy het ervaring. Hy weet: verlede jaar het ek pitte geplant wat nét sulke groot plante geword het. Maar, hoe weet hy dit gaan vanjaar weer gebeur? Hy glo dit eenvoudig!

Daarom is ’n Christelike begrafnis ’n geloofsdaad. Mense kan dalk vra: “Watter bewys het julle dat hierdie liggaam uit die dood sal opstaan?” Dan het ons maar een antwoord: Ons bewys en waarborg is Jesus Christus se eie liggaamlike opstanding uit die dood. Van hierdie opstanding sê die apostel Paulus in 1 Korintiërs 15:20: “Maar nou, Christus is opgewek uit die dood, as eersteling uit dié wat gesterf het”. En twee verse verder sê hy: “Daar is ’n volgorde: die eersteling is Christus, daarna, by Christus se koms, dié wat aan Hom behoort.”

Daarom, soos die boer wat saad saai en rekening hou met die toekomstige gestalte van die saad, so begrawe ons die liggame van ons geliefdes wat gesterf het, terwyl ons in die geloof rekening hou met hulle koninklike opstanding in heerlikheid. Ons bêre hulle liggame sorgsaam en eerbaar in afwagting van die wonder van die opwekking van die dooies wat die verheerlikte Christus sal bewerk met sy terugkoms op die wolke.

Wanneer ons ’n besluit neem oor wat na ons dood met ons liggaam moet gebeur, laat ons dink aan ons eenheid met ons Here, Jesus Christus. Laat ons dink aan die toekomstige gestalte van die saad wat gesaai word. Laat ons, ons Here navolg, in lewe en sterwe. Maar wanneer ook vir ons die aardse stryd verby is, en ons alles volbring het wat God vir ons bestem het, laat ons Hom dan verder navolg - ook in ’n koninklike begrafnis.

As kinders van die Here moet ons onsself baie duidelik oor die daad van begrafnis of kremasie vergewis. Dit is nie maar net 'n eenvoudige handeling wat daar plaasvind nie, maar die begrafnisgangers tree as saaiers van God op om daardie koringkorreltjie aan die aarde toe te vertrou tot op dié dag wanneer God dit uit die dood sal opwek tot 'n nuwe verheerlikte mens, verenig na liggaam en siel (1 Kor 15). As jy bewustelik dié koringsaad gaan verbrand, bly daar mos geen saad oor om te plant wat kan groei nie? Daarom kyk die boer met groot omsigtigheid na sy mieliesaad en versorg dit dat daar geen skade by kan kom nie. So waak God ook oor ons, want ons sal eendag by die wederkoms van Christus in verheerlikte staat opgewek word (1 Joh 3:2-4).

Sonder twyfel kan ons sê dat begrafnisse in die Ou en Nuwe Testament die algemene reël was. Dit is die norm deur God ingestel. Die Bybel praat van verbrande liggame meer gereeld in die konteks van ‘n straf op goddeloosheid (Sodom en Gomorra, Agan en sy familie en die banvloek). Uit Amos 2:1-3 blyk dit dat die verbranding van ‘n liggaam onder normale omstandighede as ‘n groot misdaad beskou is. Ons vind baie positiewe voorbeelde van begrafnisse in die Skrif. Kremasie was nog nooit ‘n Christelike gebruik nie, maar nog altyd ‘n heidense gewoonte. Agter die propaganda vir kremasie skuil die heidense, materialistiese wêreldbeskouing. Indien ‘n bevolking se siening oor God se Woord, sy geskiedenis en sy toekoms verander, sal sy siening oor begrafnis of kremasie ook verander. Indien God dan bepaal het dat sy kinders begrawe moet word, het geen mens die reg om dit te verander nie. Sien ook (Joh 12:24; 1 Kor 15:4, 35-44; 1 Thes 5:23).

Ja, laat ook ons eie begrafnis ’n gelowige getuienis in hierdie wêreld wees van die heerlikheid wat ons verwag. ’n Heerlikheid wat nie in die hart van ’n mens opgekom het nie, maar wat God bestem het vir hulle wat Hom lief het.

Hier volg ‘n paar verdere voorbeelde oor Lyksverbranding:

(Probeer kophou want ons gaan bietjie rondspring weens konteks)

  • Levitikus 10: 1+2 - En die seuns van Aäron, Nadab en Abíhu, het elkeen sy vuurpan geneem en vuur daarin gegooi en reukwerk daarop gesit en vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring, wat Hy hulle nie beveel het nie. 2 Daarop het daar vuur van die aangesig van die HERE uitgegaan en hulle verteer, en hulle het gesterwe voor die aangesig van die HERE. 

In die volgende vier gevalle is verbranding 'n ernstige verswaring van die doodstraf. Die meeste uitleggers stem ooreen dat hierdie mense nie deur vuur om die lewe gebring is nie. Hulle is waarskynlik gestenig. Daarna is hulle lyke verbrand.

  • Levitikus 20:14 - En as 'n man 'n vrou en haar moeder neem, is dit 'n skandelike daad; hulle moet hom en die twee met vuur verbrand: daar mag geen bloedskande onder julle wees nie.
  • Levitikus 21:9 En as die dogter van 'n priester haar ontheilig om te hoereer, ontheilig sy haar vader; met vuur moet sy verbrand word.
  • Josua 7:25 En Josua het gesê. Hoe het jy (Agan) ons in die ongeluk gestort. Die HERE sal jou vandag in die ongeluk stort. Daarop het die hele Israel hom gestenig, en hulle het hulle met vuur verbrand en klippe op hulle gegooi.
  • Amos 2:1+2 1 So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het. 2Daarom sal Ek ‘n vuur slinger in Moab, en dit sal die paleise van Kérijot verteer; en Moab sal met oorlogsrumoer sterwe, met krygsgeskreeu en basuingeskal.

Weereens vuur as oordeel.

  • 2 Konings 23:11 En hy het die perde uitgeroei wat die konings van Juda gegee het tot verering van die son, by die ingang van die huis van die HERE, by die kamer van Natan-Meleg, die hofdienaar, in die aanbousel; en die waens van die son het hy met vuur verbrand. 
  • 2 Konings 23:16 En toe Josía hom omdraai, sien hy die grafte wat daar op die berg was; en hy het die bene uit die grafte laat haal en op die altaar verbrand en dit verontreinig, volgens die woord van die HERE wat verkondig is deur die man van God wat hierdie woorde uitgeroep het.
  • Omdat ons nou in 2 Konings 23 is, kom ons handel met `n uitsondering waar die man van God se graf ongeskonde bly van die vuur oordeel.

2 Konings 23:17-18 Toe sê hy: Wat is dit vir ‘n grafsteen wat ek daar sien? En die manne van die stad antwoord hom: Dit is die graf van die man van God wat uit Juda gekom en hierdie dinge uitgeroep het wat teen die altaar van Bet-el gedoen het. 18  Daarop sê hy: Laat hom met rus, laat niemand sy bene verroer nie. En hulle het sy bene met die bene van die profeet wat uit Samaría gekom het, met rus gelaat.

Ons gaan voort…

  • Openbaring 14:11 En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang. (Oordeel van die wat die dier en sy beeld aanbid)

Sowel in 1 Samuel 31:12 en Amos 6:10 het ons met uitsonderlike gevalle te doen wat nie uit oordeel ontstaan het nie.

1 Samuel 31:12  het al die dapper manne hulle gereedgemaak en die hele nag deur getrek; en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand. 

Vir hierdie handelswyse het waarskynlik `n goeie rede bestaan, naamlik om te voorkom dat die Lyke nog verder deur die Filistyne vermink sou word.

Amos 6:8-10: 8Die Here HERE het by Homself gesweer, spreek die HERE, die God van die leërskare: Ek het ‘n afsku van die trotsheid van Jakob en haat sy paleise; daarom lewer Ek die stad oor en al wat daarin is. 9 En as daar tien man in een huis oorgebly het, sal hulle sterwe. 10 En wanneer iemand se bloedverwant, die een wat hom wil verbrand, hom optel om die bene uit die huis te verwyder, en aan iemand wat in die agterste vertrekke is, sê: Is daar nog iemand by jou? en hy antwoord: Nee—dan sal die eerste sê: Bly stil, want dit is nie gepas om die Naam van die HERE te vermeld nie! 11 Want kyk, die HERE gee bevel, en hulle slaan die groot huis tot ‘n puinhoop en die klein huis tot splinters. 

Hier is sprake van lykverbranding wat ook met `n besonderse doel plaasvind. Amos 6 is `n oordeels prediking teen die tienstammeryk. Daar word geprofeteer oor `n stad wat beleer word (Waarskynlik Samaria). Die aantal lyke sal oorweldigend groot wees. Dit is onmoontlik om die lyke te begrawe, aangesien die begraafplaas buite die die stad gelee is en vanwee die die beleering nie bereik kon wordnie. Hieruit mag ons aflei dat lykverbranding in hierdie omstandighede `n noodsaak geword het om die uitbreek van aansteeklike siektes te voorkom.

Behalwe direkte uitsprake oor lykverbranding, is daar ander Skrifgegewens wat in gedagte gehou moet word. Vuur en brand is deurgaans teken van die bediening van God se regverdige toorn oor sonde en heilige oordeel.

  • Sodom en Gomorra: Die Dooie See was voorheen 'n vrugbare vallei waar die stede Sodom en Gomorra geleë was. (asook 3 ander stede). God se toorn oor die sonde van die stede was so groot dat God vuur en swael uit die hemel laat reën het, sodat daar vandag nog niks kan groei nie (Genesis 18 en 19).
  • Die banvloek: In die Ou Testament het die Here beveel dat sy Kerk, lsrael, wanneer hulle die beloofde land binnegaan, die heidene se eiendom aan die Here moet offer deur dit met vuur te verbrand. Dit is die banvloek genoem. Die banvloek het twee betekenisse gehad: God het daardeur sy toorn oor die heidene se afgodspraktyke tasbaar gewys; God het aan sy verbondsvolk gewys dat Hy eers die land vir hulle skoonbrand sodat hulle nie verlei word om die heidene se praktyke oor te neem nie (Josua 7:15).
  • Korag, Datan en Abiram: Die Here was so toornig op hierdie drie manne, wat saam met die 250 ander mans die Ou Testamentiese Kerk lsrael verlei het om onheilig voor Hom op te tree, dat Hy hulle deur die aarde laat insluk het en die 250 met vuur verteer het (Numeri 16:35).
  • Brandoffers: By die brandoffer, waar die Kerk van die Ou Testament diere moes verbrand vir hulle sonde en as skuld voor God, moes die diere se karkasse heeltemal verbrand word. In die Ou Testament is die offerdiere wat vir die sonde geoffer is, in afwagting van die koms van Christus, buitekant die laer verbrand as teken van God se toorn oor die sonde van die mens. Die diere waarvan die bloed vir die sonde deur die hoëpriester in die heiligdom ingedra word, se karkasse was buitekant die laer verbrand. Daarom het Jesus ook, om die volk deur Sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely - Hebreërs 13:10-12.
  • Afgodsdienaars: Koning Jerobeam het lsrael sodanig teen die Here laat sondig dat 'n profeet teen die altaar uitgeroep het dat mensbeen, as straf van God, op die altaar verbrand sal word. Dit het die regverdige koning Josia dan ook etlike jare later gedoen (1 Konings 13:1-2 en 2 Konings 23:16).
  • Die aarde brand: God maak ook bekend dat Hy die hele aarde met vuur sal verbrand (2 Petrus 3). Dit is 'n vuur wat verbrand én skoonbrand.
  • Hel: Die woord hel kom van die Hebreeuse woord Gehenna' (hades in Grieks), waar die brandende, smeulende, stinkende ashoop buite Jerusalem mee beskryf is – Hinnom vallei. Daar is die vullis, en ook die karkasse van diere en die lyke van moordenaars verbrand. Dit is 'n vuur wat gedurig brandend was. Hierdie beeld is gebruik om God se toorn aan te dui waar Hy iemand in die hel laat brand vanweë die sonde (Openbaring 20:14-15).

Ter afsluiting:

My doel was om die leser te probeer oortuig dat vrywillige verassing / lykverbranding verkeerd is uit Bybelse konteks. In kort dan dat ‘n kind van God nie mag besluit om hom of haarself te laat veras / verbrand nie want jou liggaam is steeds die eiendom van God. Hy het die finale besluit oor u liggaam as Sy eiendom.

As daar na afsterwe egter sulke besluite geneem word weens watter rede ook al, rus daardie besluit nie op die afgestorwene tot rekenskap nie, maar hulle wat sodanige besluit geneem het.

Daar is by uitsondering bepaalde gesondheids reels waar dit van die regering af gestipuleer word dat weens sekere gesondheids kontaminasie redes wel veras / verbrand moet word, en dis in orde so, soos ons reeds ook uit die Bybel dit in hierdie studie behandel het.

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2021 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.