Redes vir die Wegraping

Redes vir die Wegraping

Johan Malan,

Opsomming: Twaalf redes waarom daar aan die einde van die kerkdispensasie ‘n wegraping vir die ware gelowiges sal wees.

Die wegraping word in moderne prediking feitlik doodgeswyg en sal opnuut in die Bybel ontdek en aan Christene verkondig moet word. Dit is ‘n belangrike belofte hierdie, wat om goeie redes by profesieë oor die eindtyd ingesluit is. Om hiervan kennis te neem, gee aan Christene ‘n vaste toekomsverwagting en iets konkreets om na uit te sien in ‘n andersins donker toneel van komende oordele oor ‘n goddelose wêreld.

Uit die Bybel blyk daar ten minste 12 redes waarom die belofte van die wegraping aan ons gemaak is:

1. Dit is ‘n ontmoeting met Christus

"Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde" (1 Thess. 4: 16-18).

Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal, sal dié wat in Christus gesterf het, uit hulle grafte opgewek word en diegene wat nog lewe, in ‘n oogwink met verheerlikte liggame beklee word (1 Kor. 15:51-53). Daarna sal die ware gelowiges saam in wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug.

Die grootste verwagting wat ons met betrekking tot die wegraping het, is nie om hier weg te kom nie, maar om aan die anderkant aan te kom. Die verlangende bruid wil met die hemelse Bruidegom verenig word. Mense wat nie in die wegraping glo nie, moet vir hulleself uitmaak hoe anders as net deur die wegraping alleen hulle van die aarde af weggeruk kan word om die Here Jesus in die lug te ontmoet. Só is Jesus ná sy eerste koms na die hemel weggeruk (Op. 12:5); só is Paulus tot in die derde hemel weggeruk (2 Kor. 12:2); en só sal ons ook aan die einde van die kerkbedeling weggeruk word. Die hemelse Bruidegom kom by hierdie geleentheid nie in die openbaar sodat elke ook Hom sal sien nie, maar soos ‘n dief in die nag net om sy bruid te kom haal.

2. Dit is ‘n ingryping deur God

"Die Here self sal van die hemel neerdaal... en ons sal... in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug" (1 Thess. 4:16-17). Die bonatuurlikheid van die wegraping, nl. die wegvoering van miljoene Christene, sal só duidelik ‘n goddelike ingryping wees dat daar geen wetenskaplike verklarings voor sal wees nie, slegs absurde teorieë deur agnostici en bygelowiges. Dit is net die Here self wat deur sy almag al sy kinders in ‘n enkele oomblik kan verander en van die aarde af wegvoer.

"In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee sal op die land wees; die een sal aangeneem en die ander verlaat word" (Luk. 17:34-36).

Die "aanneem" van sommiges sal tydens die wegraping plaasvind. Die "verlaat" van die ander dui daarop dat hulle sal agterbly om die donker dae van die Antichris se skrikbewind in die groot verdrukking te beleef.

Die skok-effek van die wegraping kan nouliks oorbeklemtoon word. In die dinge wat hierna gebeur, sal die Here se hand ook duidelik gesien kan word, veral in die oordele oor ‘n afvallige mensdom. Deur die dramatiese effek van die wegraping sal die Here ‘n ernstige boodskap aan ‘n multigodsdienstige en afvallige mensdom rig, naamlik dat hulle enigste hoop daarin geleë is om weer na sy Woord terug te keer en dit ernstig op te neem. Die wegraping sal die mat heeltemal onder die moderne vergeestelikingsteologie uittrek, waarin Bybelse uitsprake nie letterlik opgeneem word nie maar as vae beeldspraak of simboliek afgemaak word.

Ná die wegraping sal die meerderheid weens die verhardheid van hulle harte wél deur die krag van die dwaling mislei word, maar miljoene mense sal nuwe begrip vir die waarheid van die Bybel kry en die Here soek, ongeag die verwerping en vervolging wat dit in ‘n antichristelike nuwe wêreldorde vir hulle sal meebring.

3. Dit is die verkryging van ‘n opstandingsliggaam

Die wegraping staan duidelik in verband met die eerste opstanding wanneer al die ware gelowiges verheerlikte liggame sal verkry. Miljoene van dié wat weggeraap gaan word, is reeds dood, daarom moet hulle eers onverganklike nuwe liggame kry. Op daardie selfde oomblik sal die lewende gelowiges ook verheerlikte liggame kry en sonder die dood van verganklikheid na onverganklikheid verander word. Paulus verduidelik hierdie belofte só aan ‘n Christelike gemeente:

"Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word. Want hierdie verganklike moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike moet met onsterflikheid beklee word" (1 Kor. 15:51-53).

Aan die Filippense word gesê:

"Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam" (Fil. 3:20-21).

Na hierdie eerste opstanding word as "die opstanding van die regverdiges" verwys (Luk. 14:14), asook na "die opstanding van die lewe" (Joh. 5:29). Johannes sê:

"Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank" (Op. 20:6).

Dit verwys na die duisendjarige vrederyk wanneer die opgestane en verheerlikte Christene saam met Jesus Christus sal regeer. Die goddeloses sal nie deel aan die eerste opstanding en die wegraping hê nie, daarom sê Johannes ook: "En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie" (Op. 20:5). Hulle sal deel hê aan die tweede opstanding, wat ook genoem word "die opstanding van die veroordeling" (Joh. 5:29).

4. Dit is ‘n skeiding tussen nominale en ware Christene

Behalwe die skeiding wat die wegraping tussen geredde en ongeredde mense in die wêreld teweeg sal bring, sal dit ook binne die verband van die Christelike kerk self ‘n skeiding tussen wedergebore en vormgodsdienstige lidmate tot gevolg hê. Die dwase maagde gaan agtergelaat word wanneer die Bruidegom kom, al het hulle ook hulself onder die groep gereken wat aan die Bruidegom behoort, en selfs op sy koms gewag. Die afwesigheid van die olie van die Heilige Gees in hulle lewe dui op die feit dat hulle nie weergebore en geesvervuld was nie.

Hoeveel miljoene kerklidmate bevind hulleself nie in die bootjie van ‘n selfmisleidende, dooie vormgodsdiens nie! Hulle redeneer dat aangesien hulle uitverkies is, en d.m.v. die doop in ‘n ewige verbond aan God verbind is, hulle nie ‘n ondervinding van wedergeboorte hoef te hê nie. Die Here Jesus het egter aan een van hierdie uitverkore teoloë gesê: "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie" (Joh. 3:3). Dit is net die herskeppingswerk van die Here wat jou lewe kan verander!

Maak seker dat jy tydens die wegraping nie geweeg en té lig bevind word nie, want dan sal jy beslis agterbly wanneer die Here Jesus sy bruid kom haal (Heb. 4:1).

5. Dit is die einde van ‘n dispensasie

Die wegraping beëindig die bedeling van die kerk op aarde, omdat die ware kerk dan van die aarde af na die hemel toe weggevoer sal word. Net die valse kerk en die valse godsdienste wat deur die gees van die Antichris mislei is (1 Joh. 4:1-6), sal op aarde agterbly. Ons is tans baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk op aarde. Die Bybel identifiseer hierdie tydperk as ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite (1 Tim. 4:1). Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom moet wag, te mislei en aan die slaap te sus.

Terselfdertyd word die allesinsluitende eenheidsideologie van die komende antichristelike bedeling aktief verkondig, en ook strukture vir die wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie van die Antichris geskep. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om ten alle tye vir die wegraping waardig te wees nie.

Dit is dus belangrik om die wegraping in sy dispensasionele verband te sien, nl. aan die einde van die bedeling van die kerk, en net voor die begin van die Antichris se regering. Ons moet met die oog hierop die tydsgees van verval in die Christelike kerk teëstaan, asook die opmars van die komende Antichris. Doen u dit? Die hemelse Bruidegom sê dat terwyl dié wat vuil is nóg vuiler word, moet die regverdiges nóg regverdiger en heiliger word (Op. 22:11). Hulle moet besef dat hulle in ‘n terminale situasie is, en nie in die minste aan die druk van die vyand moet toegee nie.

Prediking oor die wegraping is in ‘n tyd soos hierdie van kardinale belang. Dit is soos iemand wat aan ‘n langafstand wedloop deelneem, en wat die klok vir die laaste rondte hoor. Dit motiveer hom om nie te verslap nie, en tot die einde toe te volhard. Petrus sê: "Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? - julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas" (2 Pet. 3:11-12). Ons moet nie deur die onsekerhede van ‘n snel veranderende wêreld perspektief verloor en kompromie maak nie. Ons moet die goeie stryd van die geloof end-uit stry en teen alle boosheid weerstand bied.

6. Dit skep die geleentheid vir die Antichris om geopenbaar te word

Die wegraping word direk met die openbaring van die Antichris in verband gebring:

"...julle weet wat hom teëhou sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan..." (2 Thess. 2:6-10).

Die Christene staan die openbaring van die Antichris teë, en dit is eers ná hulle wegname dat hy geopenbaar kan word. Die Heilige Gees in die kerk is sterker as die gees van misleiding wat in die wêreld werk. Wanneer die ware kerk egter skielik weggeneem word, dan verdwyn die lig van die wêreld en breek die uur van die duisternis aan. Dan kan die mens van sonde sonder teëstand geopenbaar word. Die wegraping móét plaasvind voordat die Antichris sy verskyning kan maak!

Om mense dus op die wegraping voor te berei, behels ‘n geestelike ingesteldheid van getrouheid aan die ware Christus en ook die aktiewe verwerping van die komende Antichris. Jy moet ‘n teëhouer wees wat standpunt teen antichristelike ideologieë en hulle humanistiese eenheidstrukture inneem.

7. Dit is ‘n motivering vir standvastigheid in ‘n tyd van afvalligheid

Die koms van die Bruidegom vind plaas in ‘n tyd waarin dit geestelik gesproke donker is. Dit is ‘n tyd van groot afvalligheid en goddeloosheid. Die relatief klein groepie Christene sal skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Soos in die dae van Noag en Lot sal die aarde vol gewelddadigheid, materialisme en seksuele perversie wees. Ongelukkig sal hierdie gees van sondigheid en immoraliteit ook sy tol onder Christene eis. Hulle waaksaamheid sal verslap en hul geestelike standaarde afwaarts aangepas word: "En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel" (Matt. 24:12). Baie sal só ‘n lae profiel hou dat hulle in totale passiwiteit verval. Hierteen het die Here Jesus gewaarsku, en aan gelowiges die verwagting van sy skielike koms as ‘n motivering vir standvastigheid voorgehou:

"Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!" (Mark. 13:35-37).

Onaktiewe Christene verflou in hulle liefde teenoor die Here Jesus. Die verskynsel van geestelike afkoeling manifesteer op twee maniere: enersyds ontwikkel daar ‘n liefde vir die wêreld en wêreldse partytjies waar drank gebruik word, en andersyds lei dit tot bekommernis en depressie. Hierteen waarsku die Here Jesus ook, en Hy hou weer eens die wegraping as ‘n positiewe motivering voor om te volhard tot die einde toe:

"Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon" (Luk. 21:34-35).

Moenie in hierdie tyd jou eerste liefde verlaat en sodoende van Jesus Christus afvallig word nie (Op. 2:4).

8. Dit is ‘n ontvlugting uit die rampgebied van goddelike oordele

Die teks in Lukas 21:36 stel dit onomwonde dat die wegraping ‘n ontvlugting uit oordele is. Die Here sê: "Waak dan, en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan." Die woord ontvlug beteken om buite die rampgebied te bly - nie om behoue déúr dit te gaan soos die Nuwe Vertaling sê nie.

Net soos in die dae van Noag en Lot, móét die regverdiges eers in ‘n plek van veiligheid gestel word voordat die goddelike toorn oor ‘n Christus-verwerpende wêreld uitgestort kan word. Die Here het self die ark se deur agter Noag toegemaak voordat die watervloede begin het. In die geval van Lot en sy gesin het die engele aangedring dat hulle die stad moes verlaat, omdat die vuur en swael nie kon neerdaal terwyl hulle nog daar was nie. Hulle was nouliks weg toe word die oordele van die Here oor die sondaars uitgestort.

So is die wegraping vir ons ook ‘n uitkoms. Dit is ‘n salige hoop. Dit is soos ‘n helder lig aan die einde van ‘n donker tonnel. Baie mense sê die chiliaste het ‘n ontvlugtingsindroom, en dat hulle net hier wil wegkom sonder om hulle plig te doen terwyl hulle nog hier is.

Die teendeel is eerder waar. Chiliaste besef juis dat hulle min tyd oor het om vir die Here te werk, daarom is hulle dalk meer as andere gemotiveer om te doen wat hulle hand vind om te doen. Hulle besef dat daar ‘n verdrukking kom soos wat daar nog nooit op aarde was nie (Matt. 24:21). As die Here ons daaruit wil verskoon, soos Hy ook met Noag en Lot gedoen het, waarom sal ons nie die wonderlike belofte van die wegraping aangryp en waak en bid om daarvoor waardig te wees nie?

Mense wat sinies oor die belofte van die wegraping is en nie geestelik voorbereid is om die komende oordele te ontvlug nie, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou u daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het: "Ek glo nie werklik dat die Here die aarde deur ‘n watervloed sal oordeel nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie"? Of wat sou van Lot en sy gesin geword het as hy gesê het: "Ek dink die oordele oor Sodom en Gomorra moet simbolies opgeneem word, daarom hoef ek nie te vlug vir my lewe nie. As dit wél gebeur, dan moet die Here ons maar hier, te midde van die vlamme, bewaar"?

Die komende oordele van die groot verdrukking is ‘n vaste Bybelse feit wat letterlik in vervulling sal gaan. Net so letterlik sal daar ‘n ontvlugting vir die kinders van God wees. Ons moet dié belofte aanvaar en hiervoor gereed wees. Die groot verdrukking van sewe jaar moet nie verwar word met die verdrukking wat Christene in ‘n sondige wêreld as gevolg van hulle geloof ervaar nie. Die groot verdrukking is God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld. Die ware gelowiges is glad nie hiervoor bestem nie (Joh. 5:24; 1 Thess. 5:9).

9. Dit is ‘n oproep om voor die regterstoel van Christus te verskyn

Om vir die wegraping gereed te wees met betrekking tot dit wat aan die eindpunt van die reis op ons wag, behels verskeie sake. Een daarvan is om voor die regterstoel van Christus te verskyn. Die vooruitsig op die wegraping konfronteer jou baie duidelik met die verantwoordelikheid om rekenskap van jou lewe ná bekering voor Jesus Christus te gee. Paulus sê:

"Ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad" (2 Kor. 5:10).

"So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee" (Rom. 14:12).

Ons moenie aan die wegraping in isolasie, as net ‘n reis, dink nie. Dit is ‘n middel tot ‘n baie heerlike doel. Ons weet nou waarom ons van die aarde af weggeneem gaan word, maar ons moet ook grondig voorberei word vir dit wat aan die einde van die reis in hemelse plekke op ons wag. Die heel eerste afspraak wat ons het nadat ons die Here Jesus in die lug ontmoet het, is om voor die regterstoel van Christus te verskyn.

Omdat net Christene deel aan die wegraping sal hê, is dit ook net Christene wat voor die regterstoel sal verskyn. In 1 Korinthiërs 3:11-15 lees ons dat die Here ons lewe ná bekering gaan beoordeel en genadeloon volgens ons werke toeken. Ons is sy diensknegte, en Hy gaan kyk of ons ons werk behoorlik gedoen het.

Ons word duidelik nie deur ons werke gered nie, maar dit vorm die basis vir genadeloon. Sommige diensknegte het hulle talente goed gebruik en sal baie loon ontvang. Ander het dit minder produktief gebruik en sal minder loon ontvang; en daar sal selfs diegene wees wat hulle talente begrawe het en met leë hande voor die Here sal staan - gered asof deur vuur heen!

Die volgende is die vyf krone waarvoor Christene hulleself in die diens van die Here kan beywer:

  • Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewenswandel (1 Kor. 9:24-25);
  • die kroon van roem vir sielewenners (1 Thess. 2:19);
  • die kroon van heerlikheid vir getroue herders wat nie deur selfsug gemotiveer was nie (1Pet. 5:2-4);
  • die kroon van die lewe vir Christenmartelare en almal wat swaar beproef is (Op. 2:10); en
  • die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefgehad en in die lig daarvan geleef het (2 Tim. 4:8).

10. Dit is ‘n reis na die hemesle bruilof

Ná die verskyning voor die regterstoel van Chrtistus word die bruid met haar hemelse Bruidegom verenig om nooit weer van Hom geskei te word nie. Die brandende begeerte na die wegraping is dus terselfdertyd ‘n begeerte om by die bruilof van die Lam te wees en met veelkleurige gewade wat met gouddraad geborduur is, na Hom gelei te word in ivoorpaleise (Ps. 45:10, 14-16). Deur die wegraping word jy ook vir hierdie heerlike geleentheid weggeneem. Volgens die gelykenis van die tien maagde kan diegene wat té laat wakker skrik, nog steeds hulle saak met die Here regmaak, maar hulle sal die feit in die gesig moet staar dat hulle die wegraping misgeloop het. Vir hulle sal die donker nag van die groot verdrukking wag, waarin hulle as martelare vir hulle geloof sal moet sterf.

11. Dit is ‘n reis na ons ewige tuiste

Die Here Jesus het beloof dat Hy sal terugkom om sy bruid te kom haal en na haar hemelse tuiste te neem. Voor sy hemelvaart het Hy gesê:

"Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is" (Joh. 14:2-3).

Hierdie woning in die hemel is só wonderskoon dat dit nie in menslike woorde beskryf kan word nie. Die Bybel sê: "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van die mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet" (1 Kor. 2:9).

Die nuwe Jerusalem het pêrelpoorte, strate van deurskynende goud, en ‘n muur rondom wat van die kosbaarste edelgesteentes gebou is. Om na só ‘n plek weggevoer te word, is inderdaad ‘n blye vooruitsig!

12. Dit lei na die aanvaarding van ons regterlike en koninklike posisie

Die verheerlikte Christene sal ná die wegraping saam met Christus die wêreld oordeel in geregtigheid en daarna as konings saam met Hom hier op aarde regeer. In Openbaring 4 en 5 word die verheerlikte kerk as 24 bekroonde ouderlinge voorgestel:

"Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers" (Op. 5:9-10).

Gevolgtrekking

Sien u hoe aktueel die wegraping vir elke Christen is, hoe dramaties die gebeure is wat daarmee saamhang, en hoe oor en oor die moeite werd dit is om hiervoor gereed te wees? Die Christendom sal geestelik verarm word as hierdie belofte, en al die verantwoordelikhede wat dit meebring, nie duidelik verkondig word nie. Sonder die Bybel se profetiese perspektief op die eindtyd sal ons in die duisternis van onkunde rondtas en nie ons prioriteite reg bepaal nie (2 Pet. 1:19).

Terwyl ons die naderende voetstappe van die Here Jesus kan hoor, moet ons baie seker maak dat ons inderdaad aan Hom behoort, anders sal Hy by ons verbygaan wanneer Hy sy kinders kom haal. Die ongeredde naamchristene wat nooit ‘n ontmoeting met die Here Jesus gehad het nie, en net ‘n gedaante van godsaligheid het, sal tevergeefs eendag voor die groot wit troon op hulle kerklike ampte, wonderwerke en ‘bevrydingsbedienings' roem. Selfs die Nuwe Afrikaanse Bybel met sy baie verdraaiings en weglatings (waarin die belofte oor die wegraping uit Lukas 21:36 wegvertaal is), laat hierdie waarskuwing oor valse godsdiens baie duidelik deurkom. Dit is veral teen valse leraars gerig:

"Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,' sal in die konninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is. Baie sal in daardie dag vir My sê: ‘Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie, deur u Naam duiwels uitgedryf en deur u Naam baie wonders gedoen nie?' Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree" (Matt. 7:21-23 NAV).

Dit hoef egter nie so te wees nie. As ons harte deur die wedergeboorte verander is en ook deur die vervulling met die Heilige Gees brandend vir die Here is, sal ons waardig wees om die hemelse Bruidegom te ontmoet wanneer Hy in die middernaguur kom. Hy het aan sy dissipels gesê: "Laat julle heupe omgord wees en julle lampe aan die brand. En julle moet wees soos mense wat op hulle heer wag... Gelukkig is daardie diensknegte vir wie die heer wakker sal vind as hy kom. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom omgord en hulle aan tafel laat gaan en hulle kom bedien. En as hy in die tweede of die derde nagwaak kom, en dit so vind - gelukkig is daardie diensknegte" (Luk. 12:35-38). Wees elke dag gereed vir sy skielike koms!

Lees meer by www.bibleguidance.co.za

Share

Comments

  Comment Your feedback helps us to improve the message we cary

Subscribe: e-Shofar

The e-Shofar is an email newsletter that provides prophetic insight into current event and other news updates.
Thank you for supporting this Ministry.
2 Corinthians 9:6-7

© 2024 Longtom Radio. Some rights reserved. Free to copy and distribute articles and audio programs.